Het jy ’n soettand en moet soethappies vermy? Hierdie lekkerny is gepak met sade, neute en vrugte om die brandstof terug te sit in jou are, die bloedsuikervlakke te lig en die immuniteit te versterk vir die wintermaande en verkoues op pad.
Annelien Pienaar, voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist, sê hierdie happies vorm deel van haar breinkos-kosblikhappies vir haar kinders as die dae lank raak met buitemuurse aktiwiteite.
“’n Vinnige en moeitelose resep en daar sal altyd iets te hap wees in my handsak met ʼn bottel water en ’n appel – geen kunsmatige versoeters!” sê sy.
Bestanddele
- 4 k dadels, fyn gekap
- 3 k pekanneute
- ½ k grondboontjiebotter, grof
- 60 g chaisade
- 50 g papawersaad
- 50 g sesamsaad
- 2 ml sout
- 50 ml kakao
- 15 ml kaneel
- 5 ml gemmerpoeier of verkieslik 1 x 3 cm-stuk vars gemmer, gerasper
- 2 ml neutmuskaat
- 10 ml vanielje- of rumgeursel
- 100 g glutenvrye of suiwelvrye sjokolade
- 50 g pistasieneute
Metode
- Voer ’n bakplaat van ongeveer 20 x 30 cm uit met bakpapier. Hou die sjokolade en pistasieneute eenkant.
- Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en maal tot ’n growwe pasta. Druk baie styf en rol vas in die pan. Laat die mengsel in die pan oornag set voordat die sjokolade gesmelt en bo-oor gegiet word. Sprinkel met pistasieneute en voor die sjokolade set, sny met ’n mes met ’n warm lem in blokkies en laat dan verder stol.
- Berg in yskas of vrieskas vir 6 maande.
Besoek Annelien Pienaar se webwerf en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.
Sal dit waardeer as jy die voedings waarde tabel kan aanheg Annelie. Vir ons as diabeete is die baie belangrik. Ek sou eerder Carob poeier gebruik ipv cacao.