Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Vrugtekelkie-kaaskoek

Vrugtekelkie-kaaskoek (Foto: Annelien Pienaar)

Mense is dikwels bang om met gelatien te werk. Die regte hoeveelheid gelatien tot die tipe vloeistof bepaal die fermheid van die koek of tert wat jy maak. Onthou egter dat vars vrugte se ensieme ’n invloed kan hê op die stol van die gelatien en eers liggies gekook of blansjeer moet word voor gebruik.

Pynappel, aarbeie en frambose is van nature baie suur en daarom het die resepte altyd meer gelatien nodig om ferm te set. Hierdie koek hou sewe dae in die yskas.

Volg * vir ʼn suikervrye opsie

Lewer 1 kaaskoek (8 porsies)

Bestanddele

KORS

  • 100 g Tennis-beskuitjies, baie fyn gemaal (*veselryke koekies soos Carrs)
  • 50 g botter, gesmelt

VULSEL

  • 500 g roomkaas (*laevet of vetvry)
  • 500 g gegeurde jogurt van keuse (*suikervry en vetvry)
  • 40 ml suurlemoensap
  • 400 g strooisuiker (*2-3 e vloeistofversoeter na smaak)
  • 60 ml gelatienpoeier
  • 250 ml kookwater
  • 500 ml room, styf geklits

JELLIELAAG

  • 500 ml helder wit appelsap
  • 1 e plus 1 t fyn gelatien
  • knippie sout

KORS

  1. Berei ’n losboom koekpan voor deur die pan se basis (los deel) eers met kleefplastiek van ongeveer twee lae oor te trek. Dit sal help om die koek later maklik af te skuif.
  2. Spuit die pan met kossproei. Voer die kante nou met kleefplastiek uit; maak seker die kleefplastiek sit mooi vas teen die kante.
  3. Meng die Tennis-beskuitjies met die botter en plaas in die pan en skud die pan sodat die krummels eweredig oor die bodem versprei. Neem ’n glas en druk die koekiekrummels styf op die bodem vas. Plaas die pan in die yskas om te verkoel tot nodig.

VULSEL

  1. Meng die roomkaas, jogurt, suurlemoensap en suiker saam tot die mengsel mooi egalig is.
  2. Sprinkel die gelatienpoeier in die kookwater en roer totdat dit goed opgelos het. As dit nie oplos nie, plaas die bakkie weer in kookwater totdat die mengsel soos stroop lyk en geen spikkels wys nie. Laat die mengsel tot kamertemperatuur afkoel.
  3. Klits die gelatien by die roomkaasmengsel in; hou aan klits vir 5 minute op matige spoed. Die gelatien sal veroorsaak dat die mengsel sponsig word. Vou geklopte room in.
  4. Skep vulsel in vorm van ongeveer 20-25 cm deursnit en 10 cm diep. Laat vir 4 ure stol en versier met bessies en vrugte van keuse. In hierdie foto het ek vars vrugte gebruik: Swartbessies, aarbeie (vir 1 min. blansjeer), spanspek, kiwivrug en kersies.

JELLIELAAG

  1. Verhit (nie kook nie) die appelsap en roer die gelatien by en roer tot opgelos.
  2. Laat vir 10 minute staan om af te koel en giet versigtig oor die koek sodat die vrugte net halfpad bedek is, stol vir 10 minute en giet die res van die appelsous oor. Laat stol vir 4 ure of verkieslik oornag.

*Suikervrye jellielaag: 500 ml water, 1 e plus 1 t fyn gelatien, 1 e vloeibare versoeter, 2-5 ml geursel van keuse (kook soos vir gewone jellielaag).

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.