Soorte resepte:

Donkersjokolade se ligte kant

(Argieffoto: Unsplash)

Sjokolade het in die 1500’s al die mense van Europa oorrompel en in 2009 is 7 Julie wêreldwyd as dag geoormerk om die dekadente kwaliteite van dié lekkerny te vier.

Sjokolade is nie net een van die wêreld se heerlikste en veelsydigste eetgoed nie, maar om nou en dan aan ʼn blokkie of twee weg te lê hou talle gesondheidsvoordele in.

Hoewel sjokolade baie kalorieë bevat, het dit ook antioksidante en verlaag dit cholesterolvlakke.

Volgens navorsingsverslag in Netherlands Journal of Medicine bevat kakao, wat die hoofbestanddeel in sjokolade is, biologiese aktiewe fenoliese verbindings wat mense nou anders na sjokolade laat kyk. Boonop het dit ook navorsing oor sjokolade se uitwerking op veroudering en toestande soos oksidatiewe stres, bloeddrukregulasie en arteriosklerose aangemoedig.

Hoe hoër die kakao-inhoud, soos in donkersjokolade, hoe meer voordele is daar. Donkersjokolade bevat ook oor die algemeen minder vet en suiker, maar dit is belangrik om die verpakking dop te hou.

(Argieffoto: Unsplash)

Donkersjokolade bevat anti-inflammatoriese en antioksidante en phytochemikalieë genaamd flavonoïde en stimulante soos theobromien wat voordele vir immuniteit, hartgesondheid, geheue en breinfunksie inhou.

Deur twee of drie keer per week donkersjokolade in gematigde hoeveelhede te eet kan help om gewig en lus vir suiker te beheer en kan vertering aanhelp. Sjokolade kan ook kognitiewe agteruitgang en die risiko vir kardiovaskulêre probleme vertraag.

Dit is egter belangrik om kennis te neem dat die moontlike gesondheidsvoordele van sjokolade uit enkele navorsingsondersoeke spruit en dat verdere navorsing gedoen moet word om te bevestig dat sjokolade werklik mense se gesondheid kan verbeter.

Sjokolade het ʼn legio gebruike. Jan Braai gebruik dit selfs op ʼn braaibroodjie. Só lyk die resep:

Malvalekker-en-sjokoladebraaibroodjie

*Dis ’n redelike maklike braaibroodjie omdat die malvalekkers en die sjokolade albei heel tevrede is om gou te smelt, so jy sal sonder te veel moeite die binnekant gesmelt hê teen die tyd dat die buitekant goudbruin is.

Gereg: Nagereg

Kostipe: Braai

Ses persone

Bestanddele:

  • 12 snye brood
  • botter
  • 150 g malvalekkers
  • 200 g sjokolade, opgekap

Metode

  1. Sny die malvalekkers in die helfte en kap die sjokolade op.
  2. Maak die braaibroodjies: Botter elke sny brood aan een kant (dis die kant wat buitentoe sal kyk wanneer jy eers die braaibroodjie aanmekaar gesit het). Sit die helfte van die snye brood op hul botterkante neer en pak die malvalekkers en sjokolade daarop. Bedek met die oorblywende snye brood en laat hulle botterkante boontoe wys.
  3. Braaibroodjies is draaibroodjies. Jy moet braaibroodjies gereeld draai en jy braai hulle in ’n toeklaprooster. As jy nie een het nie, koop een – verkieslik ’n rooster met verstelbare diepte sodat jy elke broodjie reg kan vasknyp. Jy wil matige hitte hê en die rooster moet redelik ver van die kole af wees. Jou doel is om die sjokolade gesmelt en die malvalekkers geswel en gesmelt te hê teen die tyd dat die buitekante goudbruin is. Om te keer dat die braaibroodjies vassit, help dit as jy die rooster ’n paar keer oop-en-toe maak ná die eerste paar maal se omdraai.

Sodra jou braaibroodjies reg is, sny jy elkeen in die helfte. Ek glo die regte manier om ’n braaibroodjie te sny, is diagonaal, en die regte tyd om dit te eet, is onmiddellik.

Bronne: Medical News Today, The Times of India, kykNET

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
deHAS

Het iemand al biltong in sjokolade gemaak?