Soorte resepte:

Drielaag-pavlova met sjokoladevulsel

Bron: Spogresepte van die Suid-Afrikaanse Vroue-Landbou-unie

12 – 15 porsies

Bestanddele
4 eierwitte
15 ml (1 e) witdruiweasyn
375 ml (1½ k) strooisuiker
5 ml (1 t) bakpoeier

Bestanddele vir vulsel
150 g donkersjokolade, in blokkies gebreek
100 ml botter
2 eierwitte
125 ml (½ k) versiersuiker, gesif
sjokoladekrulle, gerasperde sjokolade of ‘n Flake-sjokoladestafie
aarbeie, bessies of roosblare

Metode
1. Voorverhit oond tot 100°C. Voer ‘n groot bakplaat met foelie uit, blinkkant na bo. Smeer dit liggies met ‘n bietjie olie.
2. Merk liggies op foelie drie ewe reghoeke van 21 x 12 cm in grootte.
3. Klits die eierwitte en asyn saam in ‘n skoon, droë glasbak tot skuimerig. Voeg die strooisuiker lepelsgewys by en klits eierwitte tot blink en styf. Klits die bakpoeier by tot goed gemeng.
4. Verdeel die meringue in drie gelyke dele en smeer dit oor elke gemerkte reghoek.
5. Bak dit 2 ure tot gaar en droog bo-op. Skakel die oond af en laat die meringue heeltemal in die oond afkoel.
6. Vulsel: Plaas die sjokolade en botter in ‘n glasbak en plaas dit oor ‘n kastrol met liggies pruttende water. Moenie dat die bak aan die water raak nie. Roer tot die sjokolade gesmelt het.
7. Klits die eierwitte in ‘n ander glasbak tot stywe punte vorm en klits die versiersuiker by. Klits dit dan oor ‘n kastrol met liggies pruttende water tot dit vorm behou.
8. Haal die bak van die hitte af en klits tot dit afgekoel is. Vou die eierwitte versigtig by die sjokolade in.
9. Rond die geulde meringuelae af, nie meer as een of twee uur voor dit voorgesit word nie. Verdeel die vulsel in twee en smeer daarvan op elke meringuelaag. Dit maak nie saak as die vulsel effens oor die kante van die meringue loop nie. Sny groot bessis in skywe en plaas op die vulsel. Plaas die lae op mekaar.
10. Versier met roosblare of nog bessies of ‘n gebreekte Flake-sjokoladestafie.

Bron:
Spogresepte van die Suid-Afrikaanse Vroue-Landbou-unie
Saamgestel deur Heleen Meyer
Fotografie deur Adriaan Vorster
Uitgewer: Lapa
Prys: R225

Vir meer inligting oor die boek klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.