Maak die perfekte botterversiersel

Botterversiersel (Foto: Verskaf)

Baie van ons het wonderlike herinneringe van botterversiersel. Of dit nou is om die lepel as kind af te lek, om die bekende smaak op jou verjaardagkoek te proe of om dit met jou vinger van ʼn kolwyntjie af te skep – botterversiersel is deel van ons gelukkigste oomblikke.

Botterversiersel hoef nie moeilik te wees om te maak nie, dit bevat eenvoudige bestanddele, en hoewel die Italianers, Franse en Swede variasies op dié lekker versiering ontwikkel het, is dit die tradisionele Amerikaanse versiersel wat die meeste van ons ken.

Grace Stevens is ʼn botterversierselkenner wat al vir langer as 13 jaar haar kennis met die wêreld deel. Sy deel haar tien beste wenke vir die perfekte botterversiersel.

  • Die tekstuur van botterversiersel is uiters belangrik. As dit te pap of te styf is sal dit moeilik wees om op die koek te spuit met ʼn spuitsak.
  • Maak seker jy meng nie die versiersel te veel nie, te veel lug in die mengsel sal die aanwending moeilik maak.
  • Sif altyd die versiersuiker vir ʼn gladde tekstuur.
  • Sodra jou botterversiersel gereed is, bedek dit met ʼn skoon, klam vadoek om ʼn kors te voorkom.
  • Indien jou mengsel reeds ʼn kors gevorm het, plaas ʼn klam vadoek daaroor en wag vir 10 minute. Die kors sal sag word en weer deel word van die mengsel.
  • As jy versiering met ʼn spesiale kleur wil maak, maak seker jy meng die versiersel reeds die vorige dag, omdat kleur tyd nodig het om te ontwikkel.
  • Wanneer dit by ʼn spuitsak kom, is minder altyd meer. Probeer om nie jou spuitsak oorvol te maak nie, anders kan die sak skeur of die versiersel kan by die bokant uitkom.
  • Botterversiersel-blomme is makliker om te hanteer as dit tyd gehad het om hard te raak. Stoor dit in ʼn vrieskas tot jy dit moet gebruik.
  • Botterversiersel berg goed in ʼn yskas of vrieskas. Maak seker jy berg dit in ʼn lugdigte bak met so min oop spasie as moontlik om die vorming van ʼn kors te voorkom.

Grace Stevens (Foto: Verskaf)

Grace Stevens se Amerikaanse botterversiersel

Bestanddele

  • 250 g botter
  • 500 g versiersuiker
  • geursel van jou keuse
  • 10 – 30 ml melk

Metode

  1. Room botter tot glad.
  2. Voeg versiersuiker by en klop tot goed gemeng.
  3. Voeg jou gunsteling-geursel by en meng goed.
  4. Voeg melk by tot die gewenste tekstuur bereik is.

Lees meer oor Grace Stevens hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae