Soorte resepte:

Mej. SA-finalis maak vanielje- crème brûlée

Op die vraag wat haar gunstelingmaaltyd is, antwoord Danielle Marais, een van vanjaar se top-30 finaliste vir Mej. Suid-Afrika: “Nagereg.” (Foto: Verskaf)

Op die vraag wat haar gunstelingmaaltyd is, antwoord Danielle Marais, een van vanjaar se top-30 finaliste vir Mej. Suid-Afrika: “Nagereg.”

Dit is dus geen verrassing dat Marais ʼn klassieke vanielje- crème brûlée kies wanneer sy gevra word om haar gunstelingresep te deel nie.

Dié 24-jarige inwoner van Randburg meen die meeste mense is onder die indruk dat crème brûlée ʼn ingewikkelde nagereg is wat slegs deur topsjefs in vyfster-restaurante gemaak kan word.

“My gesin kook gewoonlik en ek maak die kombuis skoon. Daar is wel net twee goed wat ek kan kook: eiers op roosterbrood en crème brûlée. Ek belowe jou, as hierdie ‘eiers op roosterbrood’-groentjie-kok crème brûlée kan maak, kan jy dit ook doen,” sê Marais tong-in-die-kies.

Crème brûlée word gewoonlik koud voorgesit, maar Marais meen dit is ewe lekker om te eet wanneer dit nog warm is.

“In die koue wintertye is dit heerlik as jy jou daarin verlustig terwyl dit nog warm is. Dit is hier waar sommige sjefs dalk nie met my saamstem nie, maar jy kan self besluit.”

Maak Marais se vanielje- crème brûlée só:

Bestanddele

  • 2¾ k geklopte room
  • 1 vanieljepeul of 1 e vanieljepeulpasta
  • 4 groot eiergele
  • 1 groot eier
  • ¾ k suiker, plus ekstra vir die gekaramelliseerde bolaag

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 160 °C en plaas 6 ramekinbakkies in ʼn groot pan met die kante van die pan hoër as die bakkies.
  2. Verhit die room by medium lae hitte met die saadjies van die vanieljepeul (en ook die peul, as jy wil). As jy vanieljepeulpasta gebruik, klits dit eers by die room en verhit dan.
  3. Verhit die room vir ongeveer 5 minute en maak seker dat dit nie oorkook nie.
  4. Klits die eiergele, heel eier en suiker in ʼn aparte bak. Klits die warm room stadig by en meng aanhoudend (maar nie te vinnig nie, aangesien jy nie borrels in die mengsel wil hê nie) totdat alles bygevoeg is.
  5. Giet die mengsel deur ʼn fyn sif en gooi dit in die ramekins. As daar klein borrels op die oppervlak van die vla verskyn, gebruik die hoek van ʼn papierhanddoek om dit af te vee. Borrels voorkom dat die brûlée maklik en egalig verbruin.
  6. Vul die pan met kookwater sodat dit tot halfpad teen die bakkies kom en sit dit dan in die oond.
  7. Bak vir ongeveer 30 minute tot net gestol. Die vla moet nog ʼn bietjie skud wanneer die bakkie liggies beweeg word.
  8. Laat die vla 10 minute in die waterbad afkoel en verwyder die bakkies. Plaas op ʼn afkoelrak en laat eenkant tot heeltemal koud. Verkoel die vla minstens 3 uur voordat dit opgedien word.
  9. Strooi die suiker net voor opdiening oor en gebruik ʼn blaasvlam om die suiker te laat karamelliseer. Beweeg die blaasvlam heen en weer oor die vla, ongeveer ʼn sentimeter of twee van die vla af.
  10. Strooi nog ʼn dun lagie suiker oor die eerste laag en gebruik weer die blaasvlam om dit te karamelliseer. Herhaal die proses nog twee keer of totdat die gewenste karamellaag bereik is.
  11. Sit dadelik voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Kyk, ek is nou nie ‘n finalis nie, maar ek sal vir julle ‘n baie lekker beesstert resep gee as julle wil he.

Belinda ·

Nie net n mooi gesiggie nie, maar darm n kok ook. Baie min jong dames stel nog belang in kos maak…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.