Soorte resepte:

Resep: Bevrore grenadellakaaskoek

Bevrore grenadellakaaskoek (Foto: Lapa-uitgewers)

Romerig, sag en vrugtig!
Lewer 10-12 porsies

Bestanddele

KORS

  • 200 g (1 pakkie) Lemon Creams, fyngemaak
  • 100-125 g (100-125 ml) botter, gesmelt

VULSEL

  • 794 g (2 blikke) kondensmelk
  • 250 ml suurlemoensap
  • 200 g geroomde of gladde maaskaas
  • 250 ml vars room
  • 230 g (2 blikke) grenadellapulp

Metode

KORS

  1. Meng die fyngemaakte koekies en botter deeglik deur en hou eenkant.

VULSEL

  1. Plaas die kondensmelk en suurlemoensap in ’n groot mengbak en klits tot dit verdik. Klits die maaskaas en room deeglik en roer die grenadella by.
  2. Voer die boom en kante van ’n 24 cm-koekpan met kleefplastiek uit sodat daar genoeg oor die rand bly hang om die kaaskoek mee te bedek. Andersins kan 10-12 individuele koppies of klein bakkies op dieselfde manier voorberei word. Skep die mengsel in die pan of koppies. Skep die beskuitjiekrummels bo-op, versprei eweredig en druk liggies vas.
  3. Bedek die kaaskoek met die kleefplastiek en plaas nog ’n laag plastiek bo-oor. Vries oornag of tot nodig. Verwyder die boonste laag kleefplastiek.
  4. Keer die kaaskoek op ’n verkoelde bord uit (vooraf in die vrieskas verkil). Trek die kleefplastiek af en sit dadelik voor. Sny dit in skywe en sit net so of met ekstra grenadellapulp of vars vrugte voor.

Variasie: Vervang die grenadella met 250 g vars frambose. Verpulp twee derdes en roer dit soos die grenadella in. Die res kan heel ingeroer of wanneer dit voorgesit word, as garnering gebruik word.

Wenk: Vries die kaaskoek in ’n 1,5-2 liter‑broodpan en sny dit in skywe. Dit kan tot drie maande gevries word.

Bron: Lekker & vinnig: Yskasterte. Uit: Kos op die tafel deur Heleen Meyer

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.