Soorte resepte:

Resep: Gemmerrolletjies

Beïndruk jou kuiergaste met hierdie gemmerrolletjies.

Lewer 16 rolletjies

Bestanddele

  • 125 ml gouestroop
  • 125 g botter
  • 125 ml koekmeel
  • 15 ml fyn kaneel
  • 2,5 ml fyn gemmer

Roomvulsel

  • 500 ml room
  • 30 ml versiersuiker, gesif
  • 2,5 ml vanieljegeursel

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n bakplaat met bakpapier.
  2. Verhit die gouestroop oor lae hitte. Voeg die botter by en laat dit smelt.
  3. Sif die koekmeel, kaneel en gemmer saam en roer by die stroopmengsel.
  4. Skep eetlepels vol van die beslag op die bakplaat.
  5. Smeer die beslag met die agterkant van ’n eetlepel tot sirkels van ongeveer 8 cm in deursnee. Laat genoeg ruimte tussen elke sirkel omdat dit redelik uitsit terwyl dit bak.
  6. Bak vir 5 tot 7 minute of tot goudbruin en borreltjies vorm.
  7. Laat net effens op die bakplaat afkoel en lig dan met ’n slaplemmes op en draai om ’n houtlepel se steel. Dit raak vinnig hard, so werk dus vinnig voordat dit verhard.
  8. Laat die gemmerrolletjies goed afkoel en plaas in ’n lugdigte houer.
  9. Rolletjies kan reeds twee dae voor die tyd gemaak word.
  10. Roomvulsel: Klits die room saam met die versiersuiker en vanieljegeursel tot net styf.
  11. Spuit die room net voor bediening in die afgekoelde gemmerrolletjies.

Bron: Teetydlekkernye
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ronel ·

My favourite, met ‘n bietjie karamelkondensmelk in gespuit….yummm

Pippie ·

Kan iemand asb vir my se of dit ook sal werk as ek die gouestroop met heuning vervang?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.