Soorte resepte:

Resep: Keto-koffiekaaskoek

Keto-koffiekaaskoek (Foto: Lapa-uitgewers)

“Twee van my gunstelinggoed in een gereg: koffie en kaas! Dit is blitsvinnig om te maak en blitsvinnig om te eet, want dit is só lekker. Espresso is natuurlik ʼn moet, maar ek sal jou (net een keer) vergeef as jy baie sterk kitskoffie gebruik. Ai, ek kan nie glo ek het dit so pas gesê nie!” skryf Armand Aucamp in sy resepteboek, Armand kook kaal.

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele

KORS

  • 50 g rou amandels
  • 50 g rou sonneblomsade
  • 50 g erythritol
  • 50 g botter, gesmelt

KAASKOEKVULSEL

  • 100 g erythritol
  • 500 g volroom-roomkaas teen kamertemperatuur
  • 250 ml room
  • 50 ml espresso (of daai ander ding genaamd kitskoffie)
  • ½ t xanthaangom

Metode

  1. Om die kors te maak, rooster die amandels en sonneblomsade deur dit vir sowat 5 minute in ’n droë en baie warm braaipan te braai. Onthou om aanhoudend te roer of te skud.
  2. Plaas die neute en sade in ’n voedselverwerker en kap tot die neute fyn is, maar steeds ’n tekstuur het. Gooi in ʼn mengbak en vee die voedselverwerker deeglik skoon met kombuispapier.
  3. Plaas al die erythritol (50 g vir die kors en 100 g vir die vulsel) in die voedselverwerker en blits totdat dit ’n poeier is.
  4. Voeg die gesmelte botter en 50 g erythritol by die gekapte neute en sade en roer deeglik saam.
  5. Skep ’n laag neutmengsel in ’n tertpan wat baie deeglik met Spray and Cook gespuit is. Druk dit plat met jou hande of in 4-6 glasies om die “kors” te vorm.
  6. Om die vulsel te maak, klits die orige erythritol, roomkaas, room en koffie alles baie deeglik saam totdat dit ’n gladde mengsel vorm en daar geen klontjies oorbly nie. Klop totdat die room styf geklop is. Strooi nou die xanthaangom oor die mengsel en klop weer tot die hele mengsel lekker verdik het.
  7. Giet die mengsel in ’n tertpan of in glasies en plaas dit vir 2 uur in die yskas om te stol.
  8. As jy kan, bedien dit saam met regte, egte espresso!

Bron: Armand kook kaal deur Armand Aucamp

Uittreksel: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.