As jy op ʼn dieet is, hou liefs verby.
Ongeveer 24 blokkies
Bestanddele:
Brosbrood
- 125 g (¼ blok) sagte botter
- 75 ml (5 e) strooisuiker
- 250 ml (1 k) koekmeel
- knypie sout
Karamellaag
- 60 ml (4 e) botter
- 45 ml (3 e) gouestroop
- 397 g (1 blik) kondensmelk
- 125 ml (½ k) strooisuiker
Bolaag
- 200 g (2 plakke) sjokolade, in blokkies gebreek
- 100 g (1 plak) donkersjokolade, in blokkies gebreek
Metode:
Stel oond op 160° C
Brosbrood
- Room botter en strooisuiker tot liggeel.
- Sif koekmeel en sout by en meng tot sagte deeg vorm.
- Druk deeg op bodem van koekpan van 20 cm x 20 cm groot, wat met bakpapier uitgevoer is, vas.
- Prik deeg met vurk en bak vir 20 minute. Verwyder uit oond.
Karamellaag
- Verhit bestanddele vir karamellaag oor matige hitte in dikboomkastrol tot suiker opgelos is. Roer af en toe.
- Kook verder tot mengsel dik en goudkleurig word. Dit neem ongeveer 10 minute vandat eerste borreltjies begin vorm tot karamel reg is.
- Skep karamelsous bo-oor broskors. Hou eenkant tot gestol. Keer koekies versigtig met behulp van bakpapier uit.
Bolaag
- Smelt sjokolade teen 70%-krag in mikrogolf. Roer af en toe tot dit glad is.
- Smeer sjokolade bo-oor karamellaag en laat eenkant tot gestol. Sny kante gelyk en sny in ewe groot blokkies.
Bron: 50 beste gebak uit Vrouekeur
Uitgewer: Lapa
Dieet? Wat is DIT? Ons sal die maak, klink heerlik!
Ek is meeste van die tyd op n ligte-diëet; as die ligte aangaan eet ek, so die resep val reg in my kraal. Lyk watertand lekker.