Soorte resepte:

Resep: Plaatkoekietoring met sjokoladevla

Foto ter illustrasie. (Foto: Whitney Wright/Unsplash)

Bederf jouself met dié heerlike soet ontbyt.

Lewer 6 porsies.

Bestanddele

Plaatkoekies

  • 80 ml koekmeelblom
  • 80 ml volkoringmeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 2 eiers, geskei
  • 30 ml kanolaolie
  • 30 ml geblikte botterbone, fyngemaak tot puree
  • 60 ml lemoensap
  • 7,5 ml gerasperde lemoenskil

Sjokoladevla

  • 3 eiergele
  • 40 ml suiker
  • 20 ml Sugalite (opsioneel, vir ‘n soeter vla)
  • 10 ml mielieblom
  • 250 ml vetvrye melk
  • 50 g donkersjokolade (70% kakao)

Metode

  1. Plaatkoekies: Verhit ‘n kleefwerende pan. Meng die droë bestanddele saam. Meng die olie, botterboonpuree, lemoensap en -skil met die eiergele. Voeg die mengsel by die droë bestanddele en roer tot net gemeng.
  2. Klits die eierwitte totdat sagte punte vorm en vou met ‘n metaallepel in die mengsel in. Skep eetlepels vol deeg in die pan. Wanneer borrels op die koekies verskyn, draai om en bak tot gaar.
  3. Berei die sjokoladevla (resep hierna), smeer die vla op elke plaatkoekie en plaas 3 opmekaar om ‘n toring te vorm. Versier met ‘n halwe, gedraaide lemoenskyfie of eetbare blomme en sit individueel voor.
  4. Sjokoladevla: Klits die eiergele met ‘n elektriese klitser terwyl die suiker bietjie vir bietjie bygevoeg word. Klits 3 minute tot ligkleurig. Voeg die mielieblom by die eiermengsel en meng.
  5. Verhit die melk tot net voor kookpunt, voeg 60 ml van die melk by die eiermengsel en kilts aanhoudend om te voorkom dat die eier skif. Voeg die res van die melk by die eiermengsel en kilts aanhoudend. Giet die mengsel terug in die kastrol, prut oor lae hitte en roer aanhoudend tot verdik, en verwyder onmiddellik van die stoof.
  6. Breek die sjokolade in die vla en roer tot gesmelt.

Bron: Diabetesvriendelike poedings en -gebak
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.