Soorte resepte:

Resep: Sjokoladedriehoeke

Sjokoladedriehoeke (Foto: Dit proe soos huis)

Genoeg vir 12-24 koekies

“Hierdie is seker die heel basiese vorm van koekies; ek dink nie eens jy kan hom ’n koekie noem nie, maar al sien hy nooit die oond nie, belowe ek jou hy verskaf net soveel vreugde soos sy gebakte susters,” skryf Herman Lensing in sy resepteboek Dit proe soos huis.

“My ma het die manier gehad om hierdie koekie in elke liewe vorm en fatsoen moontlik voor te sit. Sy was gedurig op soek na nuwe panne of vorms om die koekie in te stol en dan op te sny. Sy sou bakke vol van hulle maak en dit dan op bystand hê vir die kinders wat so lief was vir my ma. Dis goedkoop en maklik om te maak, maar smaak soos ’n miljoen rand!”

Bestanddele

  • 60 ml donker kakao
  • 500 g (950 ml) versiersuiker
  • 250 g (270 ml) sagte botter
  • 1 eier
  • 1 x 200 g-pak Marie-beskuitjies

Metode

  1. Sif die kakao en versiersuiker twee keer saam (jy wil seker wees daar is geen klonte in die mengsel nie).
  2. Smelt die botter en voeg dit by die versiersuikermengsel. Voeg die eier by en meng goed.
  3. Sit die Marie-beskuitjies in ’n skoon plastieksak en slaan dit met ’n rolstok tot growwe krummels – nie te fyn nie, want dis wat die tekstuur aan die koekie gaan gee.
  4. Voeg die krummels by die sjokolademengsel en meng deur.
  5. Skep in ’n 20 x 20 cm-koekpan wat goed met kleefwerende kossproei gespuit is. (Of ’n driehoekige pan met dieselfde grootte.) Druk alles stewig vas in ’n egalige laag.
  6. Plaas vir 2-3 uur in die yskas om te stol. Keer uit en sny in skywe met ’n skerp mes.

Wenk:

Wil jy afshow? Smelt 100 g goeie donkersjokolade en doop die koekie daarin; strooi gekapte neute oor en laat stol.

Resep: Dit proe soos huis deur Herman Lensing

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.