Soorte resepte:

Resep: Somerbessiepoeding

Somerbessiepoeding. (Foto: Lapa Uitgewers)

Hierdie bessiepoeding is net die gereg vir ʼn warm somersdag.

Lewer 6 porsies.

Bestanddele

  • 800 g vars, gemengde bessies soos aarbeie, frambose, rooiaalbessies of bloubessies
  • 1 k (200 g) suiker
  • sap van ½ suurlemoen
  • 1 k (250 ml) Clover Krush-bessiesap
  • 1 e (15 ml) rooswater (opsioneel)
  • 10-12 dik snye witbrood, korsies verwyder

Metode

  1. Voer ʼn 1,5 liter-poedingbak met twee groot velle kleefplastiek uit. Die rande van die kleefplastiek moet oor die bokant van die bak hang sodat dit die onderkant van die poeding kan bedek.
  2. Meng die helfte van die vrugte, die suiker, suurlemoen­ en bessiesap in ʼn swaarboompan. Laat die mengsel kook, verlaag die temperatuur en prut liggies vir 5 minute tot al die suiker opgelos het.
  3. Giet die vrugtemengsel deur ʼn sif en laat die warm vrugte afkoel. Kook die sapmengsel vir ʼn verdere 10 tot 15 minute tot dit tot ʼn stroop afgekook het. Laat die stroop toe om af te koel voordat die gekookte en ongekookte bessies bygevoeg word. Roer die rooswater deur die stroop (opsioneel).
  4. Sny agt van die snye brood in driehoeke.
  5. Sny een broodsirkel om die bodem van die poedingbak te bedek. Sny nog ʼn broodsirkel om die oop kant van die poedingbak te bedek.
  6. Doop die een kant van die bodem se broodsirkel in die vrugtestroop.
  7. Plaas dit met die gedoopte kant na onder op die bodem. Herhaal die doopproses met die brooddriehoeke en rangskik dit met die gedoopte kante na onder, aan die binnekant van die poedingbak.
  8. Maak seker dat die lasplekke van die brooddriehoeke mekaar oorvleuel. Skep die vrugtestroop in die poedingbak en bedek met die oorblywende broodsirkel.
  9. Gebruik die kleefplastiek wat oor die poedingbak se bokant hang om die poeding toe te maak en te verseël.
  10. Plaas ʼn klein bordjie bo-op die poedingbak en gebruik ʼn swaar item om gewig op dit te plaas. Verkoel oornag in die yskas.
  11. Verwyder die lae kleefplastiek en keer die poeding op ʼn opdienbord uit. Verwyder die kleefplastiek heeltemal en sny die poeding in skywe. Sit met Clover-room, vars bessies en enige oorblywende vrugtestroop voor.

Bron: Gunsteling poedings
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.