Soorte resepte:

Resep: Souskluitjies

Souskluitjies. (Foto: Lapa Uitgewers)

Bederf jouself met heerlike, tradisionele souskluitjies.

Lewer 6 porsies

Bestanddele

  • 500 ml (2 k) koekmeel
  • 10 ml (2 t) bakpoeier
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • 60 ml (4 e) Clover Mooi River-botter
  • 250 ml (1 k) Clover-volroommelk
  • 3 eiers
  • 1,5 liter ( 6 k) water
  • 90 ml (6 e) suiker
  • 10 ml (2 t) Clover Mooi River-botter
  • 125 ml {½ k) kaneelsuiker
  • ekstra Clover Mooi River-botter

Sous

  • 125 ml (½ k) suiker
  • 5 ml (1 t) fyn kaneel
  • 30 ml (2 e) Clover Mooi River-botter
  • 7,5 ml (1 ½ t) mielieblom
  • 10 ml (2 t) water
  • bietjie soetwyn (opsioneel)

Metode

Kluitjies

  1. Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Vryf die botter 60 ml (4 e) by die koekmeel in totdat dit soos broodkrummels lyk.
  2. Klits die melk en eiers saam. Roer dit by die gesifte meel totdat ʼn sagte deeg vorm.
  3. Kook die water en suiker in ʼn groot genoeg kastrol. Roer die 10 ml (2 t) botter by tot gesmelt
  4. Doop die teelepel eers in kookwater, skep geronde teelepels vol deeg daarmee en plaas dit in die borrelende water. Maak die kluitjies in sarsies want alles gaan nie gelyk gaargemaak kan word nie.
  5. Sit die kastrol se deksel op en kook vir 10 tot 12 minute tot gaar. Moenie die deksel oplig nie.
  6. Skep die kluitjies in ʼn gesmeerde oondvaste bak. Hou dit solank warm in ʼn laetemperatuuroond, ongeveer 70 °C.
  7. Sprinkel die kaneelsuiker bo-oor die kluitjies en ook ekstra klontjies botter. Herhaal tot al die kluitjies uit die kastrol geskep is.

Sous

  1. Roer die suiker, kaneel en botter by die kluitjiewater wat nog in die kastrol is.
  2. Meng die mielieblom en water tot ʼn gladde pasta. Roer dit by die kluitjiewater. Kook dit oor lae hitte totdat die sous begin verdik.
  3. Voeg ʼn bietjie soetwyn na smaak by die sous (opsioneel).
  4. Giet die warm sous bo-oor die kluitjies en sit warm voor.

Bron: Onthoukos
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.