Soorte resepte:

Resep: Toffie-appels

Toffie-appels. (Foto: Lapa Uitgewers)

Raak nostalgies en onthou jou kinderdae met dié toffie-appels.

Lewer 12 porsies.

Jy benodig ʼn suikertermometer vir hierdie resep.

Bestanddele

  • 12 klein rooi appels, skoongewas en drooggemaak
  • 12 sosatiestokkies

Toffie

  • 800 g suiker
  • 250 ml water
  • 20 ml asyn
  • 150 ml gouestroop
  • ʼn knippie sout
  • 20 ml rooi voedselkleursel

Metode

  1. Breek die stingeltjies af en druk ʼn sosatiestokkie redelik diep in die middel van elke appel.
  2. Verhit die suiker, water, asyn, gouestroop en sout saam in ʼn swaarboomkastrol oor matige hitte. Roer af en toe sodat die suiker kan oplos. Was die kristalle wat langs die kant van die kastrol vorm, met ʼn kwassie en water af.
  3. Kook die stroop tot ligtekraakstadium (138 °C op jou suikertermometer). Dit duur ± 15 minute vandat die stroop begin borrel het om die regte temperatuur te bereik. Die stroop is gereed as ʼn druppel daarvan in koue water hard word.
  4. Haal die kastrol van die stoofplaat af en roer die voedselkleursel by.
  5. Spuit ʼn bakplaat liggies met kossproei.
  6. Doop die appels in die toffiemengsel tot dit goed bedek is en plaas dit op die bakplaat tot gestol.
  7. Beweeg die kante van die bakplaat op en af sodat die appels kan loskom.
  8. Draai dit in sellofaan toe indien verkies en bind strikkies om.

Bron: Lekkers
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.