Soorte resepte:

Resep-video: Malvalekkertert

Malvalekkertert (Foto: Elsabé Erasmus/Maroela Media)

Daar is min dinge so lekker soos ʼn heerlike stuk yskastert saam met ʼn lekker warm koppie koffie. Dié tertresep is maklik om aanmekaar te slaan wanneer jy dit vir baie mense maak en dit werk ewe goed in kleiner, individuele bakkies.

Die resep lewer ongeveer 20 porsies.

Bestanddele

  • 500 ml room
  • 1 blik kondensmelk
  • 125 ml suurlemoensap
  • 1 blik fyn pynappelstukkies, dreineer die stukkies sodat die meeste pynappelsap van die stukkies geskei is
  • 2 pakke (300 g) klein malvalekkers, jy kan ook groot malvalekkers gebruik en dit in kleiner stukkies sny
  • ¼ k verglansde kersies (opsioneel)
  • 1 pak tennisbeskuitjies

Metode

  1. Klits die room styf. Wenk: room klits vinniger styf as dit koud is.
  2. Gooi die kondensmelk en suurlemoensap by die room en meng.
  3. Voeg die pynappelstukkies, malvalekkers en kersies (hou helfte van die kersies eenkant, om bo-oor die tert te strooi) by die mengsel en meng goed.
  4. Pak die tennisbeskuitjies onder in ʼn tertbak sodat die bodem bedek is.
  5. Gooi nou die mengsel bo-oor die tennisbeskuitjies en besprinkel met die res van die kersies.
  6. Plaas die tert oornag in die yskas om te stol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.