Soorte resepte:

Stem nóú vir jou gunstelingeetplekke

Die publiek het oor die volgende drie weke kans om hul stemme te laat hoor in die soeke na Suid-Afrika se beste alledaagse eetplekke.

Mense kan tot 31 Julie stem vir hul gunstelingeetplekke om met die louere weg te stap in Eat Out se jaarlikse restaurantkompetisie.

Daar is altyd daardie een eetplek waarheen jy keer op keer teruggaan omdat jy wéét die diens is goed, die kos is heerlik en die atmosfeer laat jou voel of jy by vriende gaan kuier. Dit is presies dié tipe restaurante waarna Eat Out soek.

Eat Out deel reeds vir die afgelope vyf jaar jaarliks die Eat Out Mercedes-Benz Best Everyday Eateries-toekennings uit. Dié restaurant word gekies deur ’n 50-50‑telling op te stel uit die publiek se resensies en die menings van Eat Out se paneel van kenners.

Die wenners sal uiteindelik, volgens provinsie, by toekenningsgeleenthede op 17 September in Johannesburg en 25 September in Kaapstad, aangekondig word.

Verlede jaar het eetplekke soos Farro (beste bistro), Afro-boer (beste koffiewinkel), Saint Restaurant (beste Italiaanse eetplek), Urbanologi (beste tapas-eetplek), Momo Soko (beste Oosterse eetplek) en Wood & Fire (beste biefstukrestaurant) die krone vir Gauteng gedra.

Vanjaar is daar 13 kategorieë waarvoor restaurante ingeskryf kan word.

Marmalade, Emmentalkaas en botter of plaasbrood (Foto: Instagram via Afroboer)

“Ons is baie lief vir fynproewe, maar dié toekennings gaan oor alledaagse eetplekke. Die plekke wat se goeie diens, kos en vriendelike verwelkoming ons laat aanhou terugkeer,” sê Adelle Horler, uitvoerende hoof van New Media, wat Eat Out besit.

“Dit is ook belangrik dat die toekennings gegrond word op die menings van die mense wat die meeste daar eet,” voeg sy by.

Die publiek en Eat Out-kritici het tot 31 Julie vanjaar om hul terugvoer te gee. ʼn Kortlys van restaurante sal dan opgestel word voordat die kategoriewenners aangewys word.

Indien daar ʼn restaurant is wat ʼn oorweldigende aantal goeie resensies het, maar waarby die Eat Out-kritici nog nie geëet het nie, sal hulle Augustusmaand gebruik om dié plekke te besoek voordat die wenners aangekondig word.

“Ons glo dat gehalte en uitnemendheid kenmerke is wat gevier moet word. Dié toekennings laat ons toe om erkenning aan daardie gemaklike restaurante, wat die harte van hul lojale klante gesteel het, te gee,” sê Selvin Govender, bemarkingsbestuurder van Mercedes-Benz Cars.

Om jou gunstelingeetplek te resenseer en ʼn punt te gee, besoek Eat Out se webtuiste hier. Restaurante moet op die webtuiste geregistreer wees om hiervoor in aanmerking te kom.

Restaurante wat nog nie geregistreer is nie, kan dit hier doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cora Simpson ·

Haai Sweis Gold Rush SPUR by Emperors Palace is ‘n eetplek 1000. Probeer hulle gerus

humor ·

Kan nie deelneem nie, kan nie die luukse bekostig nie. Die heerlikste ete was nog aan my eie tafel. Ek reken ook die ganse beheer oor ons kos in eetplekke is in die verkeerde hande.

Bon Apetit ·

Hemelhuijs Kaapstad, Bistro BonBon (La Petite Dauphine Estate) , Babel by Babylonstoren en Restaurant Mosaic @ The Orient, Pretoria kry definitief my stemme. Hulle is puik restaurante.

Daar is PUIK Restaurante in SA ·

Damhuis in Melkbosstrand, Wolfgat in Paternoster en The Test Kitchen in Kaapstad.

Patriot ·

Spur??? Rerig? Hierdie is alles ryk mans plekke, het nog nooit in so fancy plek ge eet nie. Maar Spur lyk soos die donkie tussen die arabier perde daar…

Michelle ·

Kaai 4 hartenbos, heerlikste kos en roosterkoek wat ek nog ooit geproe het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.