Soorte resepte:

StopHonger-stafie meer as net voedsaam

Tasha en Armand Aucamp proe die StopHonger-stafie (Foto verskaf)

Helpende Hand het pas sy StopHonger-proteïenontbytstafie bekendgestel en te oordeel na die reaksie van verbruikers en talle bekendes, is die stafie ’n wenresep. Nie net is dit smaaklik en voedsaam nie, die verkope daarvan sorg ook dat behoeftige kinders nie honger gaan slaap nie.

Konsertgangers wat die afgelope naweek Afrikaans is Groot by die Sun Arena by Time Square in Pretoria bygewoon het, kon eerstehands ’n voorsmakie van die stafies kry en dit is soos soetkoek opgeraap. Selfs bekendes wat agter die verhoog daarvan geproe het, was gaande daaroor.

“Helpende Hand het van die begin af geglo dat die stafie in sy doel sal slaag om as ’n versnapering te dien vir diegene wat nou honger is, maar ook vir diegene wat elke dag honger is op ’n langer termyn,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. “Die sukses van die stafie het ons egter onkant betrap. Ons is verras, dankbaar en opgewonde. Ons weet dit is die begin van ’n lang volhoubare projek. Die eerste week se verkope het ons opgewonde en nederig dankbaar.”

Helpende Hand sorg tans dat 8 000 behoeftige kleuters elke skooldag ’n gesonde bord kos kry deur #StopHonger se Kosblikkie- en HelpJag-projek.

“Die behoefte is egter groter en ons het aansoeke ontvang wat al by nagenoeg 12 000 kinders strek om hulle daagliks te voed,” sê Noëth. “Die StopHonger-proteïenstafie is dus gebore uit ’n bekommernis dat die Kosblikkie-projek nie volhoubaar sal wees as Helpende Hand deurlopend, én met die groeiende nood, fondse en donasies moet insamel nie. Om dit volhoubaar te maak moes ons deur #StopHonger ’n berekende besigheidsinisiatief op die been bring. Ons wil nie graag hê ons kinders moet bedelaars wees nie en ons by Helpende Hand wil ook nie bedel om hulle volhoubaar kos te gee nie. Helpende Hand wil graag aanhou voorsien waar nodig en steeds die kleuterskole help wat by die Kosblikkie-projek baat. Die maklikste manier om dit te doen is om selfonderhoudend te word. Dit is juis die StopHonger-stafie se doel om te sê dat ons wil ’n stafie verkoop en dan ons kinders met die inkomste versorg en ook voed,” sê Noëth.

Die stafies is tans in drie heerlike geure beskikbaar – piesang en karamel; sonneblom- en pampoensaad; en veselperske, pynappel en klapper. Die stafies kos R20 elk (posgeld uitgesluit) en is aanlyn beskikbaar by www.stophonger.co.za.

Om ’n agent te word en die stafies in jou gemeenskap te verkoop, stuur ’n e-pos aan [email protected]. ’n Agent maak 40% inkomste op sy aanvanklike belegging.

Kyk hier wat bekendes by vanjaar se Afrikaans is Groot-konserte daarvan te sê het:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.