Soorte resepte:

The Grillroom: Raak heerlik versot op dié wintergenot

Jamie Sutherland, hoofsjef van The Grillroom & Sushi Bar, saam met Mark Williams, algemene bestuurder van die restaurant. (Foto: Verskaf)

Met die winterkoue wat nou behoorlik begin knyp, is Pretoria se eie The Grillroom & Sushi Bar dalk net die plek waar jy kan gaan draai vir ʼn heerlike winterspyskaart wat jou op ʼn reis van kulinêre lekkernye sal neem.

“Dink aan warm, ryk en romerige aromas, met pasteie of gebraaide en geroosterde geregte. Ons spyskaart bevat ʼn paar Suid-Afrikaanse gunsteling wat met ʼn unieke kinkel voorgesit word,” sê Jamie Sutherland, hoofsjef by The Grillroom in Brooklyn.

Sutherland meen sy eie weergawe van ʼn klassieke broodpoeding is die nagereg wat enige ysige winteraand sal besweer.

Gesoteerde warm hoenderlewers met ʼn romerige groenpeperkorrelsous word in ʼn bros aartappelskil-mandjie bedien. (Foto: Verskaf)

Van die ander hoogtepunte waarna jy kan uitsien op dié spyskaart, is gesoteerde warm hoenderlewers met ʼn romerige groenpeperkorrelsous wat in ʼn bros aartappelskil-mandjie bedien word.

Smulpape kan ook uitsien na klassieke Steak Tartare, gesny uit die beste beesfilet, voorgesit met ʼn ligte tartare- en teriyaki-sous wat ʼn besonderse geurkombinasie oplewer.

Nog ʼn nuwe gereg wat tans op die hoofgeregspyskaart verskyn, is die boontjiekasserolle met ʼn warm geurskop van chorizo-wors, wat saam met ʼn 36 uur lange geroosterde gemarineerde lamskenkel vir nog ʼn stadige agt uur gebraai is.

Probeer gerus ook die geroosterde wildspastei met gemsbok en rooiwyn en heerlike dik groente wat deel is van dié pastei se ryk bredie. Die pastei word verder bedek met ʼn ligte skilferkorsdeeg en bedien met ʼn gladde parmesaan-moes om die dis netjies af te rond.

The Grillroom se Kassler-varktjop word drie dae lank gemarineer voordat dit vir ʼn verdere twee uur lank in die Mibrasa-oond gerook word om dit daar die kenmerkende geur te gee. Die gereg word bedien met ʼn warm jongaartappelslaai met groenbone en ʼn ligte vinaigrette. ʼn Geroosterde salsa van rooipeper voeg net die regte hoeveelheid skop by die gereg.

ʼn Stadig gekookte sappige varkpens (pork belly) laat mens geure van komyn en tiemie proe, wat word met die geure van kapokpatats met gerasperde Granny Smith-appel, gesmoorde rooikool en ʼn mosterd- en roomsous.

Sjef Sutherland het ook glad nie van die vegetariërs vergeet nie. Hulle kan weglê aan botterskorsieslaai bedien met ʼn verskeidenheid van slaaiblare, roomkaas, knoffelsous, gedroogde bosbessies (cranberries), geroosterde pampoenpitte en bros uie.

Asof die hoofgeregte nog nie jou smaakknoppies genoeg bekoor het nie, is daar ook ʼn hele reeks nageregte op die winterspyskaart bygevoeg wat bestaan uit smelt-in-jou-mond-soetgebak.

Die Sjokolade S’more, met ʼn sout, krakerige basis is ryk in sjokolademousse en bedek met ʼn geroosterde malvalekker en ʼn dik laag vars frambose wat deur die soetigheid breek. Die restaurant se tuisgemaakte koffieroomys dra by tot die kombinasie van teksture en geure in die nagereg.

“Jy gaan behoorlik na die nageregte uit jou ouma se kombuis verlang as jy eers ons broskoekies proe. Ons het die Miljoenêr-broskoekies bedek met ʼn ryk soutkaramel en donker sjokolade. Vir ʼn tikkie ekstra bederf, bedien ons dit met lemoenbonbons en ʼn tuisgemaakte bitter suurlemoenroomys,” verduidelik Sutherland.

Die klapper panna cotta bestaan uit geroosterde room met klapper en ʼn sponsframboos. (Foto: Verskaf)

Die klapper panna cotta bestaan uit geroosterde room met klapper en ʼn sponsframboos. Die verrassing in hierdie dis is beslis die heerlike beetjellie en tuisgemaakte roos- en beetsorbet, wat die kersie op die nagereg se spreekwoordelike koek is.

“As jy al die komponente van die dis op jou lepel kombineer, ontplof die happie in geure van hemelse plesier in jou mond,” sê Sutherland.

Granadilla (passion fruit)-brûlée is nog ʼn geurige ryk roomnagereg op The Grillroom se winterspyskaart. Dit word bedek met krakerige karamel en bedien met tuisgemaakte granaat- en swartpeper sorbet wat die rykheid van die nagereg verbreek sonder om van die geure weg te neem.

Sutherland glo egter dat sy klassieke broodpoeding, wat bestaan uit lae van brioche-brood met botter en appelkooskonfyt wat die finale sê sal hê oor enige winterete by dié restaurant.

“Die lae van die broodpoeding word gebak saam met gedroogde bosbessies, en bedien met vars vla met ʼn kardemom-geur. Die nagereg word aangevul met tuisgemaakte kaneelroomys en vars room.

“As my ma só broodpoeding gemaak het, sou ek nie die huis verlaat nie. Ons spyskaart het iets vir almal en ek betwyfel dit nie dat jy sal wil terugkeer vir meer nie.”

Sutherland glo egter dat sy klassieke broodpoeding sal die finale sê hê oor enige winterete by dié restaurant. (Foto: Verskaf)

Ontmoet die sjef: Jamie Sutherland

Jamie Sutherland, die hoofsjef van The Grillroom & Sushi Bar, spog met 36 jaar se koservaring en het al gewerk in talle kombuise in Europa, Asië en Afrika.

Sutherland is as sjef in die Verenigde Koninkryk opgelei en het sy loopbaan in 1984 in Skotland begin, waar hy vir ’n paar hotelrestaurante gewerk het voordat hy die in die daaropvolgende dekade na Londen verhuis het om sy vaardighede by toprestaurante te slyp.

“Ek was bevoorreg om wyd te reis en het ervaring in Franse, Asiatiese, Midde-Oosterse en Afrika-kookkuns gehad. My kosstyl is modern met klassieke overtures, maar die belangrikste bestanddeel in enige gereg is passie. Ek kook met my hart en streef daarna om die volle smaak van elke gereg te verbeter.”

Sy liefde vir kook word vergelyk met sy liefde vir opleiding en mentorskap.

“Ek is die somtotaal van die talle groot sjefs onder wie ek die voorreg gehad het om te kan werk. My begeerte om self nog meer te leer, dryf my om junior sjefs onder my vlerk te neem en my kennis te deel – terwyl ek hulle leer van kosmaak, groei ek self ook verder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.