Soorte resepte:

Vars, volhoubare kos inspireer sjef Wesli

Wesli Jacobs (Foto: The Table Bay)

Wesli Jacobs het in sy kinderjare saam met sy ma en ouma by hul huis in Durban begin kosmaak en sedertdien wou die kos-gogga hom nog nie los nie.

Vandag, op die ouderdom van 31, is Jacobs die uitvoerende sous-sjef by The Table Bay, die vyfster hotel by die V&A Waterfront in Kaapstad.

“Ek het ná skool ʼn diploma in kosmaak en kombuisbestuur by die Internasionale Hotelskool in Durban voltooi. Ek moes besluit tussen kosmaak, regte en sakestudies sodat ek kon leer hoe om eendag my eie restaurant oop te maak,” vertel hy.

Jacobs het in 2019 by The Table Bay-span aangesluit nadat hy vir twee jaar as uitvoerende sjef by ʼn hotel in die Kaapse wynlande gewerk het en ʼn paar jaar by verskeie restaurante in sy tuisdorp ondervinding opgedoen het. Hy sê dit was een van sy drome om in ʼn vyfster-omgewing te werk.

Die kombuisspan by The Table Bay fokus op vars, volhoubare en plaaslike bestanddele. Jacobs is veral trots op die vertroue en noue band wat hy met die verskaffers het om die varsste bestanddele te kry wat hulle aanbied.

“Dink aan grasgevoerde beeste, vrylopende hoender en volhoubare seekos,” sê Jacobs.

“Dit beteken dat ons spyskaart daagliks verander, om by te hou met die bestanddele wat beskikbaar is. Baie van ons groente, eetbare blomme en mikrokruie word slegs vyf kilometer van die hotel af gekweek.”

Jacobs beskryf sy styl van kosmaak as simplisties en kontemporêr, maar hy hou tog ook daarvan om maniere te vind om vir ou gunstelinge ʼn nuwe baadjie aan te trek.

Vroeër in sy loopbaan het hy spesialiseer in Italiaanse en Indiese kookkuns, maar deesdae is Jacobs passievol oor enigiets wat met Japannese kos te doen het. Sy gunsteling-bestanddele om mee te kook is knoffel, gemmer en brandrissie.

Jacobs sê die Covid-19-pandemie het ʼn groot verandering in die restaurantbedryf meegebring, maar dat dit hulle gehelp het om nuut oor kosveiligheid en volhoubaarheid te dink.

Hulle het onder meer glashouers aangekoop om individueel-verpakte ontbyt te kan bedien, in plaas daarvan om dit in plastiek te verpak wat na een maal se gebruik weggegooi moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.