Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Aartappel-en-uiesop

Aartappel-en-uiesop (Foto: Annelien Pienaar)

Aartappels en uie is stapelvoedsel in die Pienaar-huishouding en soms moet mens maar kreatief raak om die mense aan die eet te hou!

’n Groot hoeveelheid uie word in hierdie resep gebruik en dan baie stadig gebraai tot glansend, waarna dit in ʼn puree verwerk word. Met die byvoeging van ’n paar kritieke geurmiddels word hierdie sop omtower in ’n resep wat almal aan die kuier kry… en bakke word boomskraap geëet! Ek het ʼn Mediterreense kinkel by die resep ingewerk.

Annelien Pienaar is ʼn voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele

  • 4 middelslag uie, fyn gekap
  • ¼ k olyfolie
  • 2 e botter
  • knippie borrie
  • 1 t selderysaad
  • knippie neutmuskaat
  • 6 middelslag aartappels, gaar en fyn gedruk
  • 1 liter aftreksel: groente of hoender
  • 250 ml suurroom
  • sout en peper na smaak

Metode

  1. Braai die uie, olyfolie en botter oor stadige hitte met die deksel op. Voeg na 5 minute die kruie en speserye by. Braai die uie totdat dit sag en deursigtig is. (Dit is die hele geheim van hierdie resep, die uie moet murgsag wees. Dit neem ongeveer 15 minute.)
  2. Maak in die tussentyd die aartappels fyn en kook saam met die aftreksel oor matige hitte vir 10 minute.
  3. Sodra die uie baie sag is, puree dit met ’n voedselverwerker of enige manier wat vir jou toeganklik is; deur ’n sif vryf, werk ook goed. Voeg die uie by die aartappel mengsel en roer tot glad.
  4. Roer die suurroom by en proe. Geur met sout en peper indien nodig. Verdun die sop met ʼn bietjie water indien dit vir jou te dik is.
  5. Bedien warm met ’n stukkie vars brood.

Wenk: Indien die suurroom vir jou te suur is, kan klapperroom of gewone room gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Magda G

Sy noet die broodreseppie ook plaas. Lyk heerlik