Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Risotto in ʼn bottel

Risotto in ʼn bottel (Foto: Verskaf)

Oral word kospakkies met droë bestanddele gepak en uitgedeel aan minderbevoorregtes, maar het ons gedink aan die praktiese implikasies van hierdie pakkies?

Neem jy in gedagte dat rys vinniger gaar kook as lensies en peulgroente soos gedroogde ertjies? Pak hierdie pakkies sodat dit sin maak vir die persoon wat dit ontvang. Verpak die erte apart van die rys en dui op ’n kaartjie aan dat dit eerste gekook moet word.

Vandeesweek kyk ons ook na bone soos suikerbone – hierdie droë bone moet eers goed geweek, gespoel, twee keer gekook en weer gespoel word in 30 minute om die aflatoksien te verwyder wat winderigheid en maagkrampe veroorsaak. Pak dus eerder aparte pakkies met deeglike instruksies.

Maak seker jy sit die kaartjie met die gebruiksaanwysings by. Ek sit sommer die volledige resep op sodat die mense self agterna nog kan maak.

Annelien Pienaar is ʼn voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Risotto in ʼn bottel

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • 250 g Arboriorys of enige soort rys
  • 75 g songedroogde tamaties – fyn gekap
  • 3 e origanum – gedroog
  • 30 g gedroogde sampioene
  • 1 aftrekselblokkie – hoender of groente (heel bo in blikkie geplaas)

Metode

  1. Pak die eerste vier bestanddele in afwisselende lae in ’n 375 ml-bottel. Gebruik ’n opgerolde papier om ’n tregter te vorm om die bestanddele in die bottel te giet.
  2. Plaas die aftrekselblokkie bo in die bottel en skroef dig toe.

GAARMAAK-AANWYSINGS OP DIE KAARTJIE VIR DIE BOTTEL

Ekstra bestanddele

  • 750 ml warm water
  • 1 e botter
  • 125 ml witwyn (opsioneel) of vervang met aftreksel
  • 125 ml room (opsioneel)
  • Parmesaankaas (opsioneel)
  • sprietuie (opsioneel)

Metode

  1. Los die aftrekselblokkie in 750 ml warm water op en hou op die stoof sodat dit heeltyd prut.
  2. Plaas die res van die bestanddele in ’n aparte kastrol en voeg 1 koppie kokende aftreksel by en kook oor matige hitte totdat die vog amper weg is.
  3. Voeg weer 1 koppie kokende aftreksel by en kook weer totdat al die vloeistof weg is, roer versigtig tussendeur die kookproses sodat jy nie ’n pappery kry. Voeg nou die laaste koppie aftreksel by en kook en herhaal.
  4. Voeg nou die botter en witwyn by en kook weer totdat die mengsel amper droog is. Teen hierdie tyd is die rys vet uitgepof en gaar.
  5. Roer die room by en dien dadelik warm op. Sprinkel met gekapte sprietuie en Parmesaankaas indien verkies.

Besoek Annelien Pienaar se webwerf en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae