Soorte resepte:

Beweeg só na ʼn meer vegetariese dieet

Eksperimenteer vandeesweek met nuwe vegetariese geregte (Foto: ProVeg SA)

Reg oor die wêreld is daar ʼn skuif na ʼn meer plant-gebaseerde dieet, maar vir baie vleisliefhebbers in Suid-Afrika kan dié skuif na ʼn nagmerrie klink.

Daar is verskeie redes hoekom mense ʼn plant-gebaseerde dieet volg, onder andere kwessies rakende gesondheid, etiese redes en die omgewing.

Donovan Will, direkteur van ProVeg South Africa, ʼn organisasie wat bewustheid skep oor verskeie voedselkwessies, sê die meeste navrae wat hulle kry, is van mense wat raad vra oor hoe om minder vleis te eet.

“Mense wil weet hoe om te begin en veral hoe om seker te maak dat hulle steeds die kos geniet wat hulle eet.”

Aangesien daar so baie heerlike vegetariese resepte is om van te kies, en talle vleisvervangers is om jou disse mee op te kikker, hoef die vleisvrye disse wat jy maak nie vervelig of smaakloos te wees nie.

Vleisvervangers hoef nie vervelig te wees nie (Foto: ProVeg SA)

Hier is ʼn paar maniere om die skuif te maak na minder vleis in jou dieet:

  • Vleisvrye Maandae is ʼn maklike manier om jou vleis-inname te verminder sonder om jou hele dieet aan te pas. Begin bloot om slegs op ʼn Maandag geen vleis te eet nie – as jy daarvan hou, kan jy dit uitbrei na meer dae per week.
  • Eksperimenteer met nuwe resepte en vleisvervangers. Kyk vir groente-patties, sampioen-biltong of plant-gebaseerde worsies. Die meeste winkels het reeds baie alternatiewe vir vleis om van te kies. Kyk ook hier na ProVeg se gunsteling-vleisvervangers.
  • Fokus daarop om meer plant-gebaseerde bestanddele in jou maaltyd in te sluit, soos groente, vrugte, grane, sade en boontjies. So sal jy makliker die vleis kan verminder sonder dat dit ʼn groot impak op jou maaltyd het.
  • Probeer restaurante en wegneemrestaurante se plant-gebaseerde opsies.
  • Kry ʼn familielid of huismaat wat saam met jou hierdie uitdaging aanpak. Sodoende sal daar nie versoekings wees wanneer jy probeer sterk staan nie.
  • Moenie moed opgee as jy nie dadelik vleis uit jou dieet kan sny nie. Die skuif na ʼn meer vegetariese dieet moet volhoubaar wees vir jou leefstyl; doen dus net soveel as wat jy kan.
  • Volg plant-gebaseerde rekeninge op sosiale media om jou te inspireer in jou poging. Hier is ʼn paar opsies: @provegza, @cape_town_vegan, @the_green_dietitian, @villageveganmom, @drroxiebecker, @shaun_the_vegan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

Mense, mense. Eet asb minder vleis. Dit sal die aanvraag verlaag en so ook die pryse, en dan kan ek meer braaivleis bekostig. Doen asb so met die bier ook?

Cherokee ·

Ek is lief vir sampioene, maar het nog nooit oorweeg om dit op die rooster te braai na Saterdagmiddag se rooiwyn.

JohanCzu ·

Vleis veroorsaak baie minder gesondheidsprobleme as plante. Suiker, rys, aartappels en graan is die skuldiges. In kort, alle goed met baie suiker en koolhidrate in. Los hulle eerder uit en eet lekker vet vleis. En gebruik gerus soja om slagdiere mee vet te maak. Soja is nie geskik vir menslike gebruik nie. Na 7 jaar se so eet kan ek getuig dat dit werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.