Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Hoendermayo-tertjies

Hoendermayo-tertjies (Foto: Annelien Pienaar)

Dít is so ’n effense kroek-kors tussen blaardeeg en broskors. Die geheim is die koue bewerking van die deeg en die verhouding van smeer tot koekmeel. Verder is hierdie deeg binne vyf minute gereed, geen rustyd is nodig nie.

Die ongebakte tertjies kan bevries word vir drie maande en van bevrore toestand dadelik in die vooraf verhitte oond by 190 °C vir 15 minute gebak word.

Om te vries: Vries die tertjies eers in die panne, haal uit en vries verder in lae waspapier. Voordat jy bak, moet dit weer in dieselfde pannetjies gebak word anders is dit ’n plat pizzatertjie.

Annelien Pienaar is ‘n voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Lewer 8 dosyn tertjies met 5 cm-deursnit.

Bestanddele

VULSEL

  • 8 hoenderfilette
  • 1 hoenderaftrekselblokkie
  • 1 liter water
  • 1 k mayonnaise
  • 1 k room
  • 2 ekstragroot eiers
  • ½ t knoffel
  • peper na smaak
  • 1 e tiemie, gedroog

DEEG

  • 210 g (1¼ k) koekmeel
  • 210 g (1 k) botter of bakmargarien, bevrore en van goeie gehalte
  • 150 ml room
  • knippie sout

Metode

VULSEL

Maak hierdie vulsel redelik lank vooraf om kans te kry om goed af te koel. Gewoonlik maak ek dit die vorige aand en laat goed afkoel.

  1. Voeg aftrekselblokkie in die water en kook tot opgelos. Voeg hoenderborsies by en kook tot gaar en sag. Laat die hoender afkoel en sny kleiner of kap in voedselverwerker tot medium grof.
  2. Voeg die res van die bestanddele by en roer goed deur. Bedek en verkoel.

DEEG

  1. Voorverhit oond tot 200 °C en smeer twee 4-dosynpannetjies uit.
  2. Die hele geheim van hierdie deeg is dat dit so koud moontlik bewerk moet word. Daarom moet die bevrore botter eers gerasper word, daarna dadelik by die meel gevoeg en in die voedselverwerker grof gemeng word. Dit moenie soos broodkrummels verwerk word nie, daar moet nog klonte sigbaar wees. Hierdie klonte gaan vir ons die kenmerkende blasies van blaardeeg gee.
  3. Voeg die room en knippie sout by en draai lem totdat jy sien die mengsel kom net-net bymekaar. Haal uit en druk met koue hande wat in koue water gedoop en afgedroog is (want ek het baie warm hande) en druk liggies aan mekaar.
  4. Sprinkel werksoppervlak en deeg mildelik met meel en rol die deeg ongeveer 5 mm dik uit. Onthou wanneer jy deeg rol om genoeg meel in die begin op die werksoppervlak te gooi, anders sit die deeg vas as jy vormpies begin uitdruk.
  5. Druk vormpies van jou keuse uit en plaas in gesmeerde pannetjies. Vul met vulsel so veel as wat jy wil. Bak by 200 °C vir 10-12 minute.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.