Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Koljanderbiltong

Koljanderbiltong (Foto: Verskaf)

“Die reuk van geroosterde koljander is net ongelooflik. Ek kan my nie biltong sonder koljanderstukkies voorstel nie,” sê Annelien Pienaar, voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

“Dié resep is baie eenvoudig en ek dink die moeilikste deel is die ongeduld dat die vleis moet droog word. Die winter skuif stadig maar seker nader en ons hier op die plaas begin ons bestanddele gereed kry vir vleisbewerking in Mei.

“Graag deel ek met julle ’n resep uit my Boerekos met ’n twist-kookboek (bl. 96) vanuit die vleis-afdeling. Daar is ook heerlike boerewors, lamstaanrib, sult, biltongkaaskoek, biltongpatee en vele meer!”

Lewer 2 kg biltong

Bestanddele

  • 5 kg beesbinneboud of rugsteaks
  • 375 ml (1½ k) dik worcestersous
  • 125 ml (½ k) koljander, geskroei en grofgemaal
  • 200 g (1 k) sagte bruinsuiker
  • 100 g growwe sout
  • 30 ml (2 e) koeksoda
  • 45 ml (3 e) grofgemaalde swartpeper
  • 45 ml (3 e) gerookte paprika

Metode

  1. Verwyder enige senings van die vleis, maar hou die vet aan. Sny die vleis in repe van 2 cm saam met die draad van die vleis en plaas dit in ’n plastiek- of erdeskottel.
  2. Sprinkel die worcestersous oor die vleis en werk dit goed deur. Laat die vleis dan vir 1 uur staan; skroei intussen die koljander.
  3. Meng die bruinsuiker, sout, koeksoda, koljander, peper en paprika.
  4. Sprinkel die soutmengsel oor die vleis en draai om; herhaal tot al die vleis gesout is en in lae op mekaar lê. Bedek met kleefplastiek en hou koud in die yskas vir 16 uur. Draai die vleis ná 8 uur sodat die sout eweredig kan versprei.
  5. Hang die biltongstukke ver uitmekaar in ’n vertrek met goeie ventilasie en waar dit geen direkte sonlig sal kry nie. Bedek die vleis met ’n net en gebruik ook ’n staanwaaier indien nodig. Droogtyd sal ongeveer 5 dae met die waaier wees.

Besoek Annelien Pienaar se webwerf en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.