Annelien se kombuis: Rooiworsiesouttert

Rooiworsiesouttert (Foto: Verskaf)

Annelien Pienaar, voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist, sê hierdie souttert is haar kinders se gunsteling.

“Dit is ’n heerlike vullende gereg om te bedien met ’n vars tuinslaai. Ek het die opsie ingewerk om oorskietvleis te gebruik om die blikkie boeliebief mee te vervang. Hierdie is gewis ’n heerlike randrekker-idee. Hierdie resep kan gebak of rou gevries word vir daardie dae wanneer jy nie lus het vir kook nie en ’n vinnige happie wil voorsit vir jou gesin.”

Kyk ook gerus na die video aan die einde van die resep.

“Volgende week gaan ons kyk na ’n gesonde energiestafie vir kosblikke en ook tye wanneer ons ekstra energie nodig het sonder onnodige suiker. Koop solank die dadels,” sê Annelien.

Rooiworsiesouttert

Lewer 12 porsies

Bestanddele

Kors

  • 280 g (2 k) bruinbroodmeel (kan met koekmeel vervang word)
  • 10 ml (2 t ) bakpoeier
  • 2 ml (½ t) sout
  • 115 g (½ k) botter
  • 30 ml (2 e) olie
  • 1 groot eier
  • 30 ml (2 e) melk

Witsous

  • 30 ml (2 e) botter
  • 105 g (¾ k) koekmeel
  • 800 ml (3 k) melk
  • 2 ml (½ t) sout
  • peper na smaak

Vulsel

  • 1 mediumgroot ui, gerasper
  • 30 ml (2 e) olyfolie
  • 1 blik soutvleis of oorskietvleis soos maalvleis, hoender, braaivleis ensovoorts
  • 270 g (3½ k) gerookte rooiworsies, in skyfies gesny
  • 250 g (2½ k) gerasperde cheddarkaas
  • 1 mediumgroot tamatie, gerasper
  • 20 ml droë pietersielie
  • peper na smaak
  • 3 ekstragroot eiers
  • 250 g gesnipperde spekvleis

Metode

Kors

  1. Smeer ’n tertbak van ongeveer 19 cm x 30 cm.
  2. Sif die meel, bakpoeier en sout saam.
  3. Voeg die vesel wat in die sif agterbly weer by die bestanddele in die mengbak.
  4. Plaas die meel in ’n voedselverwerker, voeg die botter en olie by en puls totdat die mengsel soos broodkrummels lyk. Keer dit weer in die mengbak uit.
  5. Voeg die eier by die melk en klits goed. Voeg dan die eiermengsel by die meelmengsel, meng en druk goed saam. Druk die deeg in die gesmeerde bak.

Witsous

  1. Smelt die botter in ’n groot kastrol oor matige hitte en voeg die koekmeel by. Meng met ’n draadklitser en roer vir 1 minuut.
  2. Voeg die melk by en roer met die draadklitser om klonte te voorkom. Hou aan roer totdat die mengsel verdik het. Kook vir 5 minute en verwyder die kastrol van die plaat. Voeg die sout by en laat afkoel.
  3. Voorverhit die oond tot 180 °C en meng al die bestanddele vir die vulsel saam. Voeg die louwarm witsous by en roer baie goed deur. Skep in die voorbereide tertkors en bak vir 45–60 minute.

Wenk: Vir kolwyntjie-grootte tertjies as snoephappies vir gaste of die kosblik: Bak 25 minute teen 180 °C.

Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Hermann P

Daar is nie so iets soos gerookte rooiworsies nie. Dit is smoked viennas of red viennas. Tensy jou rooiworsies gerook is. Of ek is gerook.