Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Stromboli

Stromboli (Foto: Annelien Pienaar)

Kosblikke, piekniek en kuierkos is aan die orde van die dag. Met die aanbreek van die skooljaar begin ons weer die koppe skuif na heerlike kuiertjies en ook kosblikke.

Hierdie resep is ideaal as kuierkos én vir kosblikke. Met dié eenvoudige brooddeegresep rol jy die deeg en vul dit met watter oorskiet vleis jy ook al in die huis het of selfs heerlike vars kruie, fetakaas met spinasie of ’n pesto van olywe en songedroogde tamaties. Hoe dit ook al uitwerk, ’n gevulde broodjie gaan beslis die kuiertjies gesellig maak.

Annelien Pienaar is ‘n voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Loer gerus ook in by my Facebook-groep Boerekos met ʼn Twist waar ons elke dag saam kuier en meer leer oor die dinge van die kombuis.

Lewer 2 stromboli’s en voed 8 mense

Bestanddele

  • 1 kg (7 k) koekmeel
  • 500 g (2 k) lou water (24 °C )
  • 190 g (¾ k) lou melk (24 °C )
  • 45 ml (3 e) botter, kamertemperatuur
  • 30 ml (2 e) heuning
  • 10 g kitsgis
  • 50 ml (3 ½ e) water (om gis in op te los)
  • 10 ml (2 t) sout

Metode

  1. Meng die meel, water en melk saam totdat die mengsel egalig vertoon en geen droë meel sigbaar is nie. Hierdie deeg gaan nie geknie word soos in die ou dae nie. Die deeg gaan rus vir 3 uur sonder gis sodat die glutenraamwerk vanself gevorm word.
  2. Na drie uur sprinkel jy gis oor 50 ml water en roer om goed op te los. Voeg die botter, heuning, giswater en sout by die deeg. Druk met jou vingers van bo af gate in die deeg sodat die vloeistof kan ingaan.
  3. Begin dan deur die deeg soos ’n horlosie te sien en begin by twaalfuur oor te vou na ses uur en weer van drie uur oor na nege uur en hou so aan totdat jy weer by 12 uur uitkom. Dit is belangrik om die deeg te vou en nie te knie.
  4. Laat die deeg weer rus vir 15 minute en vou weer een rondte. Herhaal 2 keer. Laat dan die deeg rus in ’n goed geoliede bak en bedek, sodat dit kan verdubbel in volume. Hierna sal die deeg sag wees en gereed wees vir die resep wat jy wil maak.
  5. Sprinkel oppervlakte rojaal met 1:1 mengsel van koekmeel en mielieblom (Maizena). Verdeel deeg in twee. Rol een helfte uit tot ongeveer 3 mm dik uit in langwerpige vorm. Pak vulsels van keuse op die deeg. Daar moet altyd mozzarella in die rol wees.
  6. Onthou om ʼn afstand van twee vingers reg rondom die deeg oop te hou en nie met bestanddele te bedek nie. Sodra jy tevrede is met die rol se vulsel, rol soos volg:

Vou die kort kant se oop rante oor. Begin vanaf die lang kant van die deeg oor te rol soos ’n rolkoek tot by die ander ent. Tel versigtig op en plaas in gesmeerde bakplaat. Voltooi die ander rol. Maak dan skuins snitte met ’n baie skerp mes of lemmetjie.

  1. Smeer elke rol mildelik met olyfolie. Bak die rol vir 45 minute by 180 °C. Sodra die stromboli uit die oond kom, smeer weer met olyfolie en sprinkel met vars of droë kruie van keuse. Oreganum en basiliekruid is heerlik.
  2. Bedien effens afgekoel met sous van jou keuse.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.