Soorte resepte:

Ian se biefstuk-manifes

Foto: human&rousseau.com

Foto: human&rousseau.com

“Almal wat al Ian se biefstuk geproe het, vra hoe op aarde hy dit so heerlik in ʼn pan kan gaarmaak. Hier is sy manifes, wat ook werk vir braai oor die kole,” skryf Errieda du Toit.

  • VLEISSNITTE: Rib-oog bly nommer een, maar dan ook kruisskyf.
  • Maak vriende met jou slagter. Vra vir beesvleis van beeste wat natuurlik gewei het en vleis wat droog-verouder is.
  • Haal die vleis ʼn dag voor die tyd uit die verpakking en plaas oop op ʼn draadrakkie in die yskas. Haal betyds uit om kamertemperatuur te bereik.
  • Sit selfone eenkant, dra ʼn voorskoot (dit lyk cool), skink ʼn glas wyn. Gebruik ʼn goeie swaarboom-riffelpan.
  • Maldon-sout bly bobaas. Druk die vlokkies fyner, anders val dit van die vleis af. Probeer ook Khoisan- of Oryx-sout.
  • Varsgemaalde swartpeper, ʼn bietjie kookolie, ʼn lekker gasplaat. Sout die vleis meer as gewoonlik, want baie gaan verlore in die pan (moenie voor die tyd peper oorstrooi nie). Smeer ʼn dun lagie kookolie aan elke kant van die vleis.
  • Maak die pan vulkanies warm op die grootste vlam of plaat. Draai die vleis eers om wanneer dit vanself loskom. Sit elke keer die vleis op ʼn ander deel van die pan en roteer dit 45° of 90° om die riffelstrepe en hitte mooi te versprei.

Hoe gaar?

Moenie die horlosie dophou nie. Kyk eerder of die kors goed bruin is, want dis die Maillard-reaksie (karamellisering op die oppervlak) wat die geur gee. Druk aan die vleis – jy sal gou die slag aanleer.

Vleis met been in:

Braai T-been ʼn rukkie regop op die been (onderstebo T), sodat dit tot teen die been gaar is. Doen dieselfde met biefstuk wat ʼn lagie vet het. Strooi die peper laaste oor (daar’s mense wat reken die peper brand bitter in die pan). Laat die vleis ʼn paar minute rus.

Foto: Tuistafel

Ian se biefstuk-manifes, Foto: Tuistafel

Kruiebord

Berei die kruiebord voor terwyl die vleis rus. Gaste kan solank begin om bykosse te skep.

Bestanddele:

  • ʼn Hand vol elk vars kruisementblare en pietersielie
  • 1 vars rooi brandrissie
  • 3 knoffelhuisies
  • Sap van ½ suurlemoen
  • 45 ml olyfolie
  • 30 ml sojasous
  • Soutvlokkies en varsgemaalde swart peper na smaak

Metode:

  1. Kap die kruie, rissie en knoffel op ʼn groot houtbord fyn, drup suurlemoensap, olyfolie en sojasous oor. Plaas die steak bo-op die kruie en sny in repe. Laat gaste hulself help en repe deur die kruiesous trek.

Bron: Tuistafel deur Errieda du Toit
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R375.00
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karin ·

Hoe water my mond nou! En alles wat Ian doen, maak sin. Sodra ek weer so ‘n lekker stukkie vleis kan bekostig, maak ek dit so gaar … sal laat weet hoe dit geproe het :-)

Stephanie ·

Karin, ek dink jy moet my nooi om te kom help “proe”. Net om100% seker te maak dis regtig so lekker soos dit klink en lyk. ;-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.