Soorte resepte:

Kosblik-idees: Hoenderslaai en kaas-en-mieliemuffins

Foto: Verskaf

Hoenderslaai met broccoli en appel. Foto: Verskaf

Kosblik-pak vir die gesin behoort nie te moeilik of tydsaam te wees nie. ʼn Bietjie beplanning kan ʼn groot verskil maak, want as jy aandetes so beplan dat daar iets oorbly of op ʼn nuwe manier aangewend kan word, is die helfte van die werk reeds gedoen.

Oorskiethoender en ʼn paar vars bestanddele kan maklik in ʼn heerlike slaai vir ʼn warm dag omgetower word. Sit ʼn paar lepels guacamole by en jy het ʼn vullende en gebalanseerde ete, met amper iets uit elke voedselgroep. ʼn Tuisgebakte kaas-en-mieliemuffin is ʼn lekker peuselhappie en ook ʼn veselryke stysel om die ete verder interessant te maak.

Hoenderslaai met broccoli en appel

  • Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
  • Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

Hoender

  • 5 ml (1 e) Westfalia-avokado-olie, gebruik die gewone of suurlemoen-gegeurde olie
  • 2-3 hoenderborsies aan die been, vel verwyder
  • 80 ml (⅓ k) sterk rooibostee
  • 1 lourierblaar

Slaai

  • 7,5 ml (½ e) matige mosterd
  • 45 ml (3 e) suurlemoensap of wit druiwe-asyn
  • 5 ml (1 t) heuning
  • 45 ml (3 e) Westfalia-avokado-olie, gebruik die gewone of suurlemoen-gegeurde olie
  • 2,5 ml (½ t) gedroogde origanum
  • swartpeper na smaak
  • 100 g broccoli, in blommetjies gesny of dun groenboontjies, gehalveer
  • 250 ml (1 k) bevrore ertjies, afgespoel
  • ¼ komkommer, gehalveer en in skyfies gesny
  • groot handvol gemengde slaaiblare
  • 2 JOYA®-appels, in kwarte en dan in skyfies gesny
  • 1 x 200 g-bakkie Westfalia Plain Guacamole

Metode:

Hoender

  1. Voorverhit olie oor matige hitte in ʼn groot braaipan (AMC 24 cm Chef’s Pan werk uitstekend). Braai hoender aan weerskante tot goudbruin.
  2. Verlaag die hitte, voeg tee en lourierblaar by. Plaas ʼn deksel op en prut 15-20 minute of tot net gaar. Skep uit en laat afkoel. (Die pansappe kan gevries word. Gebruik dit dan as aftreksel vir ʼn ander maaltyd.) Verwyder die bene en skeur die vleis in kleiner stukkies. Of gebruik enige oorskiethoender.

Slaai

  1. Meng mosterd, suurlemoensap, heuning, olie en origanum saam en geur met peper. Skink ʼn bietjie oor die gaar hoender om die vleis te marineer.
  2. Skink kookwater oor die broccoli of bone en ertjies. Laat 7-10 minute staan of tot net gaar. Dreineer en herhaal proses met die broccoli en boontjies indien nodig. Spoel af om af te koel.
  3. Pak groente, hoender, komkommer, slaaiblare en appel in ʼn kosblik of op ʼn slaaibord en sit voor met die res van die slaaisous. Skep lepelsvol guacamole by die slaai sodra dit voorgesit word, vir ʼn volledige maaltyd. As die slaai vir ʼn kosblik ingepak word, hou die slaaisous en guacamole apart tot dit geëet word.

Kaas-en-mieliemuffins

  • Lewer 18 – 20 muffins

Bestanddele:

  • 500 ml (2 k) volkoringmeel
  • 15 ml (1 e) bakpoeier
  • 5 ml (1 t) mosterdpoeier
  • knippie sout
  • 20 ml (4 t) vars tiemieblare
  • 125 ml (50 g) gerasperde cheddarkaas
  • 200 ml bevrore mieliepitte, afgespoel
  • 80 ml (⅓ k) Plain Westfalia-avokado-olie
  • 3 ekstragroot Nulaid-eiers, geklits
  • 500 ml (2 k) karringmelk
  • 30 ml (2 t) sesamsaadjies

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 2 x 24-muffinpanne liggies met olie.
  2. Plaas die droë bestanddele in ʼn groot mengbak en roer die tiemie, kaas en mieliepitte by.
  3. Meng die olie, eiers en karringmelk saam en roer by die droë mengsel tot dit alles net deurgemeng is, maar moenie die mengsel te veel roer nie.
  4. Skep die beslag in die voorbereide panne en strooi sesamsaadjies oor.
  5. Bak 40 minute of tot ʼn toetspen skoon uitkom. Sit as deel van ʼn kosblik voor.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

logo

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

A ·

Ek wil net so bitter graag weet hoe hou ‘n kind so ‘n hoenderslaai koel tot pouse. Ons sit dit in ‘n verkoelsakkie, maar met die hitte en in hulle tasse is so ‘n slaai pap en onsmaaklik teen etenstyd. Hoender is ook vir my ‘n groot risiko omdat dit voedselvergiftiging veroorsaak. Ek wens dat skole se snoepies gesonde etes kon verkoop sodat kinders dit vars voorbereid kan koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.