Soorte resepte:

Mej. SA-finalis deel kitskerrieresep

Eloïse van der Westhuizen, een van vanjaar se top-30 finaliste vir Mej. Suid-Afrika, is nie net mooi en intelligent nie, maar ook ʼn kosliefhebber. (Foto: Verskaf)

Eloïse van der Westhuizen, een van vanjaar se top-30 finaliste vir Mej. Suid-Afrika, is nie net mooi en intelligent nie, maar ook ʼn kosliefhebber.

“Ek hou daarvan om kreatief in die kombuis te wees,” sê sy. “Niks is meer bevredigend en aangenaam as om saam met my familie en vriende om ʼn tafel te sit en ʼn tuisgemaakte maaltyd wat ek vir hulle gemaak het, te geniet nie.”

Dié 26-jarige sake-intelligensieontleder wat in Panorama, Kaapstad, woon, meen kosmaak is een van haar gunstelingtydverdrywe. Dit is nou wanneer sy nié MasterChef Australia op TV kyk nie.

Een van Van der Westhuizen se voorkeurwintergeregte is haar hoender-en-klapperkerrie, wat sy “kerrie in ʼn kits” noem. “Want dit is vinnig en maklik om te maak, veral as jy op die nippertjie mense vir ete ontvang of wil nooi,” verduidelik sy.

Maak Van der Westhuizen se hoender-en-klapperkerrie só:

Bestanddele

  • 3 e klapperolie
  • 4 vrylopende hoenderfilette sonder vel, in stukke gesny
  • ½ ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, geskil en fyngekap
  • 2 t paprika
  • 3 e gemaalde koljander
  • 2 e gemaalde komyn
  • 1 e kerriepoeier
  • 2 t vars gemmer, fyn gerasper
  • sout na smaak
  • 400 ml klapperroom
  • 300 ml organiese hoenderaftreksel
  • 2 t vars lemmetjiesap
  • ʼn handvol vars koljander, gekap vir opdien
  • 1 brandrissie, fyngekap (opsioneel)

Metode

  1. Verhit ʼn groot pot oor hoë hitte en voeg klapperolie by.
  2. Voeg hoenderfilette by en soteer tot goudbruin, haal dit uit die pot en hou eenkant.
  3. Soteer die ui in dieselfde pot totdat dit sag en geurig is. Voeg die knoffel en speserye by en braai vir 30 sekondes. Voeg die hoender weer in die pot.
  4. Giet die klapperroom en hoenderaftreksel in.
  5. Verlaag die hitte en laat die kerrie 20 minute kook totdat die hoender gaar is en die sous effens verdik het.
  6. Voeg die lemmetjiesap by en geur na smaak.
  7. Versier met vars koljander en brandrissie (opsioneel).

Van der Westhuizen se opdienwenk: “Ek sit dit voor met basmatirys en ʼn vars tamatie-en-komkommersambal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

koos ·

Wat ‘n nice smile – as sy ‘n perd was, het ek haar gekoop (grappie). Maar sy het gewis ‘n netjiese glimlag!

Oom ·

Jammer, maar dit lyk vir my altevol na ‘n sop eerder as ‘n dis. Met 700ml vloeistof in die resep is dit nie vreemd dat dit in ‘n sopbord opgedis word nie. Klomp sous met so hier en daar ‘n stukkie hoendervleis. Hier waar ons ‘n Frankryk woon koop ons lekker hoendervleis. Boude en dye weeg saam 500 gram. Teen €2.00/kg (R35.00) is dit in enige taal ‘n winskoop. Dan is dit ook nie vol soutwater gespuit nie. Die hoender wat sulke boude en dye lewer het nie in ‘n draadhokkie gesit nie. Na daardie vleispot verlang ons beslis nie terug nie. Viva la France!

Cherokee ·

Sy is heeltemal reg Oom. Sy beduie dan vir jou mooi dat dit kerrie is, en nie dat dit die hoofmaaltyd is nie. Luister, kyk en hoor weer waar sy beduie, dit gaan gaan op rys, wat dit dàn ‘n bord smulkos maak. ‘n Bykomstigheid dus. Én… nooit sonder ‘n sny brood en botter nie! Ek eet brood en botter saam met alles behalwe saam met mieliepap.

Linx ·

Dit lyk beslis eerder soos sop as kerrie,los maar die kosmaak vir die grootmense,hou j maar by die modelwerk.

Belinda ·

n mooi dame wat darm nog kan kos maak. nice. en sterkte vir die kompetisie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.