Soorte resepte:

‘Net koffie’ se rooibokboud

‘Net koffie’ se rooibokboud. (Foto: Verskaf)

Hierdie resep uit Net koffie se sesde episode sal vleisliefhebbers opgewonde maak én die verruklike geure sal jou huismense se monde laat water.

Bestanddele

  • olyfolie (genoeg om rooibokboud te seël en die uie in te braai)
  • ontbeende rooibokboud
  • 2 uie
  • knoffel na smaak
  • dadels in kwarte gesny
  • roosmaryntakkies na smaak
  • 10 ml rooiwynasyn
  • brandrissiepoeier na smaak
  • sout en peper na smaak
  • 450 ml beesaftreksel
  • sap van 1 lemoen
  • 50 g tamatiepuree
  • 2 groot koppies koffie
  • skil van ½ lemoen
  • 1 kaneelstokkie
  • 10 ml heuning

Instruksies

  1. Verhit die olyfolie in ʼn pot, plaas die rooibokboud in die olyfolie en verbruin totdat dit geseël is.
  2. Sodra die rooibokboud geseël is, haal dit uit vir verdere voorbereiding.
  3. Terwyl die vleis voorberei word, braai die uie in die oorblywende olie tot sag en gekarameliseer.
  4. Sny gate in die boud en vul dit met die knoffel en dadels. Waar die been uitgehaal is stop dit ook vol knoffel, dadels en roosmaryn.
  5. Plaas die rooibokboud terug in die pot saam met die uie. Giet die rooiwynasyn oor die boud en strooi speserye oor .
  6. Vir die sous: Voeg die beesaftreksel, vars lemoensap en tamatiepuree bymekaar. Meng goed met ʼn vurk en voeg die mengsel in die pot. Moet dit nie direk op die vleis gooi nie, maar hou dit aan die kante van jou pot.
  7. Voeg dan die belangrikste element, die koffie by, weer eens langs die kant en nie oor die vleis nie.
  8. Strooi die lemoenskil oor die rooibokboud en plaas die kaneelstokkie bo-op.
  9. Gooi die heuning laastens oor die rooibokboud.
  10. Sit die deksel op en plaas dit in die oond of op die vuur vir ongeveer 3 tot 4 uur tot gaar. Geniet!

Hierdie resep is in episode ses van Net koffie met Henriëtte Marx gemaak. Dit is met vergunning van kykNET gepubliseer. Vir meer inligting oor die program besoek kykNET se webwerf.

Net koffie met Henriëtte Marx is Sondagmiddae om 17:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.