Soorte resepte:

Resep: Bederf jou hond met hierdie patee

Hoender-patee (Foto: Bake and Bark)

Maak self tuis vir jou hond kos – dis die perfekte manier om seker te maak dat jou geliefde vierbeenvriend gesonde kos vol voedingstowwe eet.

Die diere-rehabilitasiesentrum Domestic Animal Rescue Group (DARG) in Houtbaai het pas ʼn resepteboek bekendgestel wat jou sal help om self gesonde kos vir jou honde by die huis te maak.

DARG help om misbruikte en verwaarloosde diere, asook rondloperdiere te rehabiliteer en vir hulle nuwe tuistes te soek. Hulle help ook honde en katte in die omliggende gebiede van Hangberg en Imizamo Yethu deur geld te skenk vir sterilisering, noodgevalle en algemene troeteldiersorg.

DARG ontvang geen ondersteuning van die regering af nie, en is afhanklik van die goedhartigheid van mense en geldinsamelingsprojekte.

DARG se jongste projek, die honderesepteboek Bake and Bark, bied resepte met bestanddele wat vrylik in die winkel beskikbaar is. Al die resepte is sonder suiker, sout en xylitol.

Ken, een van die honde by DARG wat mal is oor hierdie patee (Foto: DARG)

“Wees versigtig vir bestanddele soos uie, sjokolade, avokado, rosyne, druiwe en die saadjies van vrugte en groente. Hierdie bestanddele is skadelik vir jou hond en word nie in die resepteboek gebruik nie,” sê hulle.

Hierdie resep moet nie as ʼn etevervanger beskou word nie. Raadpleeg eers ʼn kenner en voer jou hond verantwoordelik en met matigheid.

Lewer 1 koppie patee

Bestanddele

  • 120 g beenlose hoenderborsie
  • ½ k hoenderlewer
  • 2 t ongesoute botter
  • 2 t gladde maaskaas

Metode

  1. Plaas die hoenderborsie in water in ʼn groot pot. Bring tot kookpunt en verlaag tot medium-hoë hitte. Kook vir 15-20 minute of tot die hoender nie meer pienk binne is nie.
  2. Laat afkoel en sny dan die hoender in hapgrootte stukke. Jy sal ongeveer ½ koppie gekapte hoender hê.
  3. Smelt botter oor medium hitte en voeg hoenderlewer by. Braai vir 2-3 minute of tot liggies verbruin.
  4. Voeg die gekapte hoenderborsie by die hoenderlewer en braai vir nog ʼn minuut.
  5. Gooi die mengsel in ʼn voedselverwerker, voeg die maaskaas by, en blits tot ʼn gladde patee.
  6. Gebruik ʼn lepel en vul die binnekant van ʼn ronde speelding of ʼn hoef met die patee. Bevries vir 1 uur en dien op.
  7. Berg die oorskietpatee in die yskas in ʼn lugdigte bak vir tot drie dae, of bevries vir tot 3 maande.

Wenk: Raadpleeg eers jou veearts voordat jy kaas vir jou hond gee. As jou hond dit nie kan eet nie, kan jy bloot die maaskaas uit die resep verwyder.

Vir meer inligting besoek hul webwerf hier. Koop Bark and Bake hier aanlyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sandra ·

Ja ek sal die kaas los, my skaaphond is beslis “lactose intolerant”, want as mens vir hom kaas gee, dan blaas hy die gas wat die kaas in sy maag veroorsaak uit sy exhaust uit en almal suffer opi einde van die dag ; – )

Anel ·

Moet dit dalk probeer. Van ons honde is alergies vir grondbootjiebotter en graan. Moeilik om vir hulle medikasie te gee. Hierdie klink lekker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.