Soorte resepte:

Resep: Beesstert met knopiesampioene

Beesstert met knopiesampioene (Foto: The South African Mushroom Farmers’ Association)

Gebruik jou drukkoker om hierdie gereg te maak.

Genoeg vir 6 mense

Bestanddele

  • 2 e olyfolie
  • 1,2 – 1,5 kg beesstert
  • sout en peper na smaak
  • 1 ui, in repies gesny
  • 4 knoffelhuisies, fyngemaak
  • 3 e tamatiepasta
  • 2 e sojasous
  • 2 lourierblare
  • 3 kruienaeltjies
  • ’n handjievol tiemietakkies
  • 1 k vleisaftreksel
  • 3 wortels, geskil en in groot stukke gesny
  • 1 blik (400 g) botterbone, afgespoel en gedreineer

Vir die sampioene

  • 1 e olyfolie
  • 1 e botter
  • 250 g wit knopiesampioene, in die helfte gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyngemaak
  • sout en peper na smaak

Vir opdiening

  • witrys en vars tiemietakkies

Metode

  1. Stel ʼn drukkoker op sy soteerfunksie.
  2. Vryf die beesstert met olyfolie en geur met sout en peper.
  3. Verbruin die beesstert in klompies alkante tot goudbruin. (Jy kan dit ook in ’n oond van 220 ˚C op ’n groot bakplaat doen.)
  4. Verwyder die beesstert uit die binnepot en plaas eenkant.
  5. Voeg die uie in en soteer tot sag. Voeg die knoffel by en braai vir ’n minuut.
  6. Voeg die tamatiepasta, sojasous, lourierblare, naeltjies en tiemie by. Laat prut vir ’n paar minute tot die tamatiepasta soet ruik. Voeg die vleisaftreksel by.

 

  1. Sit die verbruinde beesstert terug in die binnepot. Maak seker die stukke is deels deur die vloeistof bedek. Pak laastens die wortels in lae bo-op.
  2. Verseël die drukkoker en maak seker die ontlugknop is in die verseëlposisie. Drukkook op hoog vir 40 minute en dan op natuurlike vrylating vir 20 minute. Laat enige oorblywende druk per hand vry en maak die deksel oop.
  3. Verwyder die beesstert en wortels baie versigtig met ’n gaatjieslepel en plaas eenkant. Gooi die tiemietakkies weg.
  4. Stel die pot terug na die soteer-opsie en laat die sous prut. Voeg die botterbone by en laat die sous bietjie wegkook.
  5. Berei intussen die sampioene voor: Verhit ʼn groot pan oor hoë hitte. Voeg die olyfolie en botter by en soteer die sampioene tot goudbruin. Voeg die knoffel by net voor alles gereed is en geur dan goed.
  6. Plaas die beesstert en die wortels versigtig terug in die sous en bone om alles warm te hou. Skep die goudbruin sampioene bo-oor.
  7. Besprinkel alles met vars tiemie en bedien op gestoomde witrys.

Bron: The South African Mushroom Farmers’ Association

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.