Soorte resepte:

Resep: Biefribbetjies in rooiwyn

Biefribbetjies in rooiwyn (Foto: Lapa Uitgewers)

Trek daardie prutpot van jou nader en berei heerlike biefribbetjies vir jou en jou gesin.

Lewer 8 porsies.

Prut vir 8 tot 9 uur.

Bestanddele

  • 10 ml sout
  • 10 ml varsgemaalde swartpeper
  • 80 ml koekmeel
  • 45 ml kanola-olie
  • 2,3 kg beeskortribbetjies
  • 2 uie, gekap
  • 250 g sampioene, in kwarte gesny
  • 30 ml fyngekapte vars knoffel
  • 30 ml tamatiepasta
  • 1 vars tiemietakkie of 5 ml gedroogde tiemie
  • 1 lourierblaar
  • 500 ml rooiwyn
  • 250 ml biefaftreksel
  • 250 ml water

Metode

  1. Meng die sout, peper en meel in ’n plastieksakkie. Plaas die ribbetjies in die sakkie en skud sodat die vleis met meel bedek is.
  2. Verhit die olie in ’n swaarboompan en braai die ribbetjies in sarsies tot bruin. Skep die ribbetjies uit in die prutpot se bak.
  3. Verlaag die hitte en soteer die uie en sampioene liggies vir ongeveer 10 minute tot goudbruin.
  4. Voeg die knoffel by en soteer vir nog ʼn minuut. Roer die tamatiepasta, tiemie en lourierblaar deur die uiemengsel en soteer vir nog 5 minute. Skep die uiemengsel ook in die prutpot se bak.
  5. Giet die wyn, aftreksel en water in die pan en verhit tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat die vloeistof vir ongeveer 10 minute afkook. Giet die vloeistof oor die groente en ribbetjies.
  6. Plaas die prutpot se deksel op en kook vir 8-9 uur op Laag of 5 uur op Hoog. Die vleis sal sag wees en amper van die bene afval. Bedien saam met kapokaartappels of rys.

Bron: 50 Prutpotgeregte
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Alkohol ‘n probleem? Gebruik rooi druiwesap of ander vrugtesap.

Eend Bessinger ·

Ek hou nie van alkohol nie. As plaasvervanger gebruik ek druiwesap of bessiesap. Smaak net so lekker.

Hennie Biebouw ·

Die tonne suiker in vrugtesap sal hiérdie dis , na my mening oneetbaar maak! Wanneer jy met wyn kook, verdamp die alkohol, dis waarom jy dit lank en stadig doen. Deur wyn met vrugtesap te vervang gaan dié storie in ‘n stroop verander. Hoe gril ek nou…..

Hennie Biebouw ·

Ook bekend as “bœuf à la Bourguignonne” Heerlik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.