Bobotie bly altyd ’n gunsteling. Ek hou daarvan om vir elkeen sy eie bobotie te maak en het selfs al die bakkies met druiweblare uitgevoer vir die mooi. Pleks van rys, sit ek dit met patatpuree voor. Enige soetigheid gaan ook goed saam met bobotie. Sny steenvrugte soos pruime of perskes in skywe, strooi ’n bietjie suiker oor en bak in die oond tot effe gekaramelliseer.
Bestanddele:
Bobotie
- 3-4 uie, gekap
- 30 ml (2 e) knoffel-en-gemmerpasta
- olie vir braai
- 30-45 ml (2-3 e) geroosterde masala- of kerriepoeier
- 5 ml (1 t) fyn komyn
- 10 ml (2 t) borrie
- 15-30 ml (1-2 e) suurlemoensap
- 1 kg ekstramaer beesmaalvleis (of helfte volstruis- of wildsmaalvleis)
- 20-30 ml (4-6 t) fyn appelkooskonfyt
- 1 groot groen appel, gerasper
- 125 ml (1 k) of minder gekapte Turkse appelkosies en rosyntjies of sultanas
- 2 snye brood, in water geweek en fyngedruk
- sout en peper na smaak
Eiervla
- 375 ml (1½ k) melk of natuurlike jogurt of klappermelk
- 3 eiers
- sout en swartpeper
- lourierblare of suurlemoenskil
Metode:
Voorverhit die oond tot 180 ̊C. Smeer ’n groot oondbak of individuele bakkies.
Bobotie
1. Soteer die ui en knoffel-en-gemmerpasta in ’n bietjie olie tot sag. Roer die speserye en suurlemoensap by.
2. Skep uit in ’n bak en meng die maalvleis by.
3. Roer die res van die bestanddele by en meng liggies. Skep in die voorbereide bak of bakkies.
Eiervla
4. Meng al die bestanddele en giet oor die vleismengsel.
5. Druk die lourierblare of suurlemoenskil in die vleismengsel en bak 20-30 minute tot die eiervla gestol is.
6. Sit voor met patatpuree, gebakte vrugte of gestoofde droëvrugte en sambals.
Bron: Carmen se beste resepte
Uitgewer: Human & Rousseau
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
6 Kommentare
@MM. Dom vraag maar moet die maalvleis ook nie geroerbraai word nadat die ui mengsel en ander bestanddele bygevoeg is nie.
Ek wou graag hierdie heerlike bobotie resep print, maar daar is glad nie so `n opsie nie.
Groete
Estelle