Soorte resepte:

Resep: Chinese beesvleiskerrie met grondboontjies

Chinese beesvleiskerrie met grondboontjies (Foto: Lapa-uitgewers)

Dié kerrie kan warmer gemaak word met brandrissies.

Bestanddele

  • 400 g (1 blik) klappermelk
  • 2 stukkies sitroengras of 3 suurlemoenblare
  • 45 ml Thaise rooi kerriepasta
  • 30 ml vissous (opsioneel)
  • 30 ml sagte bruinsuiker
  • 500 g kruisstuk (rump steak), in repies gesny
  • 50 g grondboontjies, gekap
  • 45 ml grondboontjiebotter
  • 250 ml melk
  • 2 sprietuie, gekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • suurlemoensap na smaak
  • ’n handvol vars basilieblare en ekstra sprietuie

Metode

  1. Giet die helfte van die klappermelk in ’n groot braaipan en verhit dit oor matige hitte tot kookpunt.
  2. Kneus die sitroengras liggies of sny die suurlemoenblare in breë repe. Roer dit saam met die kerriepasta, vissous en suiker by en prut tot aromaties. Roer gereeld.
  3. Voeg die orige klappermelk by en prut vir ’n paar minute.
  4. Roer die vleis, grondboontjies, grondboontjiebotter en melk by en prut dit vir 8-10 minute of tot die vleis net gaar is. Roer gereeld en moenie die sous te vinnig laat kook nie.
  5. Voeg die sprietuie by en geur met sout, peper en suurlemoensap. Garneer dit met basilie en sprietuie en sit dit met rysnoedels of aromatiese rys voor.

 

WENK: Vir ’n warmer kerrie kan meer kerriepasta gebruik word, of voeg 1 rooi brandrissie by. Plaas die heel brandrissie met kerriepasta in klappermelk en verwyder die rissie voor opdiening. Of ontpit en kap die brandrissie vir ’n nog warmer kerrie.

 

Bron: Spogresepte van die Suid-Afrikaanse Vroue-landbou-unie deur Heleen Meyer

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.