Soorte resepte:

[Resep] Eenpot-hoendergereg

Foto: Verskaf

Dié eenpotgereg is altyd ʼn wenner in die winter en binne ʼn uur is kos op die tafel. Jy kan maklik iets uit elke voedselgroep insluit. Dit is wel skoolvakansie en die kinders het dalk nie kosblikke nodig nie, maar ʼn ma of pa moet dalk iets inpak vir middagete op kantoor. Maak dus sommer van die begin af genoeg.

ʼn Souserige eenskottelgereg met groente en hoender is boonop ʼn lekker manier om bone deel te maak van etes. Bone sowel as hoender pas uitstekend by tamatie, wat hierdie gereg ekstra geurig maak. Met die regte kombinasie van bestanddele en ʼn gaarmaakmetode wat soveel as moontlik geur aan die gereg verleen, is ʼn smaaklike ete met min moeite gou gereed.

In die winter en veral in die vakansie is ʼn mens soms lus vir nagereg, maar het nie altyd tyd om eers ʼn lang resep te maak nie. Hierdie peerpoeding is een van daardie resepte wat jy met verskillende vrugte kan maak. Wees kreatief met die speserye en selfs ander bestanddele soos dalk ʼn bietjie donker sjokolade wat saam met die neute gebruik kan word. Die beslag wat oor die vrugte gegiet word, is basies eiers, melk, meel en olie met die speserye. Dit word alles net saam geklits en die vrugte hoef ook nie vooraf gaargemaak te word nie – regtig ʼn vinnige nagereg.

Resep uit Cooking from the Heart 1

Lewer 6 porsies

Bestanddele: 

  • 2 t (10 ml) Westfaliagewone of knoffelgegeurde avokado-olie
  • 1 groot ui, gekap
  • 1 knoffelhuisie, fyn gekap (opsioneel indien knoffelgegeurde avokado-olie gebruik word)
  • 3-4 hoenderborsies aan die been, gehalveer, vel en oortollige vet verwyder
  • 2 groot wortels, in dik skywe gesny
  • 3 murgpampoentjies, in dik skywe gesny
  • 1 x 410 g-blik gekapte tamaties
  • 1 e (15 ml) tamatiepasta
  • ½ t (2,5 ml) paprika of rooipeper, of na smaak
  • 1 t (5 ml) gedroogde origanum of 1 e (15 ml) gekapte vars origanum
  • ½ k (125 ml) water of rooibostee
  • 1 x 410 g-blik gebakte boontjies in tamatiesous
  • 1 x 410 g-blik botter- of rooi nierbone, gedreineer
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 2 e (30 ml) gekapte vars pietersielie

Metode:

  1. Verhit olie oor matige hitte in ’n groot kastrol. Soteer ui en knoffel (indien gebruik) vir ’n paar minute. Voeg die hoender by en braai tot goudbruin.
  2. Roer wortels, murgpampoentjies, tamaties, tamatiepasta, paprika en origanum by.
  3. Voeg die water of tee by, verlaag die hitte en prut met ’n deksel vir 30 minute of tot die hoender net gaar is.
  4. Voeg die bone en sout by en geur met suurlemoensap en peper na smaak. Prut tot deurwarm en roer pietersielie by. Sit voor met blokkies avokado.

Peerpoeding

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 3-4 ryp pere, ontpit en met die skil in dun wiggies gesny
  • 60 ml (¼ k) sterk rooibostee
  • 30-45 ml (2-3 e) heuning
  • 60-80 ml (¼-⅓ k) haselneute of amandels, grof gekap
  • 2 groot Nulaid-eiers, geklits
  • 125 ml (½ k) melk
  • 60 ml (¼ k) Westfalia- avokado-olie
  • 10 ml (2 t) vanieljegeursel
  • 180 ml (¾ k) koekmeel
  • 5 ml (1 t) bakpoeier
  • ’n knippie gemaalde wonderpeper
  • 5 ml (1 t) gemaalde gemengde speserye
  • 5 ml (1 t) gemaalde kaneel
  • 60 ml (¼ k) gemaalde amandels

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n oondbak liggies met olie.
  2. Plaas pere in ’n enkellaag in die oondbak en giet tee en heuning bo-oor. Strooi neute oor.
  3. Klits eiers, melk, olie en vanielje saam. Sif meel, bakpoeier en speserye bo-oor, voeg neute by en klits tot ’n gladde beslag vorm.
  4. Skink beslag bo-oor die pere en bak 35-45 minute of tot goudbruin en gaar.
  5. Sit warm voor met ongegeurde jogurt of tuisgemaakte vla.

 

Wenk: Maak dieselfde resep met appels in plaas van die pere.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Kobus, jy kan tot meer as tweeduisend bestandele in EEN pot kry….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.