Soorte resepte:

Resep: Frikkadelle met pynappelsous

Frikkadelle met pynappelsous. (Foto: Lapa Uitgewers)

Dié frikkadeldis met pynappel sal enige koue wintersaand behoorlik opkikker.

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • 600 g beesmaalvleis
  • 1 ui, baie fyn gekap
  • 250 ml vars witbroodkrummels
  • 5 ml sout
  • ʼn knypie peper
  • ʼn knypie droë pietersielie
  • ʼn knypie fyn kruienaeltjies
  • 1 eier

PYNAPPELSOUS

  • ʼn klont Clover Springbok-botter
  • ½ ui, fyn gekap
  • ½ rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
  • 1 x 440 g-blikkie pynappelblokkies
  • 125 ml pynappelstroop
  • 125 ml blatjang
  • 5 ml sojasous
  • 2,5 ml souspoeier
  • 2,5 ml mielieblom

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 ºC en smeer ʼn oondvaste bak van ongeveer 18 cm x 28 cm.
  2. Meng die maalvleis, ui, broodkrummels, sout, peper, pietersielie, naeltjies en eier in ʼn mengbak.
  3. Rol die maalvleis in balletjies so groot soos verkies om die frikkadelle te maak.
  4. Smelt genoeg botter in ʼn swaarboompan en braai die frikkadelle tot goudbruin. (Dit hoef nie heeltemal gaar te wees nie.) Skep die frikkadelle in die voorbereide oondvaste bak.

PYNAPPELSOUS

  1. Smelt die botter in ʼn swaarboomkastrol en soteer die ui tot sag. Voeg die soetrissie by en soteer vir nog ʼn minuut.
  2. Dreineer die pynappelstroop van die blikkie pynappelstukkies en behou 125 ml van die stroop.
  3. Voeg die pynappelblokkies, pynappelstroop, blatjang en sojasous by die ui en die soetrissie en laat dit vir ʼn verdere 5 minute oor matige hitte prut.
  4. Meng die souspoeier en mielieblom met ʼn bietjie van die warm sous en roer dit dan by sous wat prut.
  5. Laat die sous prut tot dit verdik het. Giet die sous oor die frikkadelle, bedek die bak met foelie en bak vir 25 minute tot gaar.
  6. Bedien warm saam met rys en groente.

Bron: Ekonomiese Gesinskos
Uitgewer: Lapa 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
isabelle

Heerlik!!