Soorte resepte:

Resep: Gebeukte lendeskywe in rooiwynsous

Gebeukte lendeskywe in rooiwynsous. (Foto: Lapa Uitgewers)

Bedien die lendeskywe met baba-aartappels en ʼn bros groenslaai of groenertjies.

Lewer 5 porsies

Bestanddele

  • 5 gebeukte lendeskywe (tenderised steak, ± 600 g)
  • 20 ml elk Worcestersous en suurlemoensap
  • 175 ml rooiwyn
  • 7,5 ml elk mosterdpoeier en paprika
  • 15 ml kanola- of olyfolie – 10 ml om ui te roerbraai + 5 ml om vleis te braai
  • 1 klein ui, in dun skyfies gesny (80 g)
  • ½ klein groen soetrissie, ontpit en in dun repies gesny (75 g)
  • 5 ml beesvleisaftrekselpoeier
  • 125 ml kookwater
  • 20 ml koekmeel, met ʼn bietjie water tot ʼn pasta gemeng

Metode

  1. Plaas die vleisskywe in ʼn enkel laag in ʼn vlak bak. Meng die Worcestersous, suurlemoensap, wyn, mosterdpoeier en paprika en gooi dit oor die vleis. Verkoel en marineer vir minstens 30 minute. Dit kan selfs vir 12 tot 24 uur gemarineer word.
  2. Verhit 10 ml olie en roerbraai die ui en soetrissie totdat die ui deurskynend en die soetrissie sag is. Skep dit uit. Gooi 5 ml olie in dieselfde pan en verhit tot matig warm. Dreineer die vleisskywe en behou die marinade. Braai twee tot vier skywe per keer totdat die vleis byna gaar is. Skep die gebraaide ui en soetrissie oor die vleis.
  3. Verhit die marinade, aftrekselpoeier en kookwater tot kokend warm en gooi dit oor die vleisskywe. Prut vir 3 tot 5 minute en roer net genoeg van die meelpasta by om die sous effens te verdik. Roer en skep van die sous voortdurend oor die vleisskywe.
  4. Bedien dit met baba-aartappels en ʼn bros groenslaai of groenertjies.

Bron: Lekker & Gesond: Diabetes
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Wil die kos alkoholvry hê? Vervang wyn met druiwesap.

koos10 ·

‘n Bekende chef het het een keer gesê dat hy so baie daarvan hou om met wyn te kook, dat hy dit soms in sy kos ook sal gooi!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.