Soorte resepte:

Resep: Halfmaantjies

Halfmaantjies (Foto: Suidooster-kombuis)

Die gewilde kykNET-sepie Suidooster is nou nie slegs meer op jou televisiestel beskikbaar nie, maar ook op jou kombuistafel!  Hier is ʼn lekker resep vanaf Mymoena Samsodien se YouTube-reeks “Hallie Happies” uit die resepteboek Suidooster-kombuis.

“Van al my gunstelingsouthappies is ek die liefste vir hierdie half-moons wat my ma altyd oor Ramadan gemaak het. Dis ook my en AB se liefdeshappie; ek spot hom juis dat dit van al my half-moons is dat hy ’n boepie op pad het. Ek en die tweeling hou van ’n hoendervulsel, maar hy verkies hierdie maalvleisvulsels met ʼn byt.”

Maak ± 20 halfmaantjies

Bestanddele

DEEG

  • 250 ml water
  • 30 ml botter
  • 3 ml sout
  • 250 ml koekmeel
  • 2 eiers, geklits
  • 200 ml droë broodkrummels
  • olie vir vlakbraai

VLEISVULSEL MET BYT

  • 25 ml botter of margarien
  • 1 ui, gerasper
  • 500 g maalvleis
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 ml fyn naeltjies
  • 10 ml fyn komyn
  • 5 ml fyn koljander
  • 5 ml borrie
  • 2 ml fyn neutmuskaat
  • 25 ml gekapte pietersielie
  • 1 gekapte brandrissie of rissievlokkies na smaak
  • sout en peper

Metode

  1. Verhit die water, botter en sout saam tot kookpunt. Sodra dit begin kook, voeg die meel by. Roer met ’n houtlepel totdat die mengsel ’n bal vorm.
  2. Rol die deeg dun uit op ’n werkoppervlak wat met meel bestrooi is. Druk ronde sirkels met ’n koekiedrukker uit.
  3. Skep die vulsel van jou keuse in die middel van elke deegsirkel. Gebruik ’n kwas en smeer die buiterand liggies met water, vou toe, en druk liggies vas om dit te seël.
  4. Plaas die geklitste eier en broodkrummels in aparte diepborde en doop die halfmaantjies eers in die eier en daarna in die broodkrummels. Braai dit in olie oor matig-hoë hitte tot goudbruin en gaar; draai een keer om wanneer jy braai.

VLEISVULSEL

  1. Verhit die botter in ’n pan en braai die ui tot sag, sowat 7 minute.
  2. Voeg die maalvleis by en braai terwyl jy dit nou en dan roer om die maalvleis op te breek.
  3. Voeg die knoffel, speserye, pietersielie, rissie, sout en peper by. Prut tot die vulsel gaar en die vloeistof weggekook is. Laat afkoel.

Bron: Suidooster-kombuis

Suidooster word Maandae tot Vrydae om 18:30 op kykNET en kykNET & Kie uitgesaai. Suidooster-kombuis is by die meeste groot boekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.