Hierdie quiche is nie net gesond en voedsaam nie, maar ook glutenvry!
Lewer 8 porsies
Bestanddele
- 250 ml/g koue gaar aartappel, fyngedruk
- 60 ml sagte margarien
- 4 groot eiers
- 250 ml (165 g) aartappelmeel
- 5 ml bakpoeier
- 1,25 ml sout
- 5 ml kanola- of olyfolie
- 1 middelslag-ui, geskil en gekap
- 200 g ham, in klein stukkies gesny
- 285 g-blik ingemaakte sampioenstukkies en -stingeltjies
- 125 ml (50g) gerasperde Cheddarkaas
- 50 ml gekapte vars pietersielie
- 200 ml ongegeurde laevetjogurt
- 100 ml laevetmelk
Metode
KORS
- Meng die aartappel en margarien en klop een eier by. Sif die aartappelmeel, bakpoeier en sout oor en meng tot ʼn sagte deeg. Bedek en verkoel vir 30 minute.
- Rol die deeg tussen twee lae kleefplastiek uit tot sowat 0,5 cm dik. Verwyder die boonste laag plastiek en gebruik die onderste laag om die deeg om te keer in ʼn quichepan van ongeveer 23 cm in deursnee.
- Druk die deeg egalig vas, verwyder die plastiek en maak die randjie netjies. Voorverhit die oond tot 180°C.
VULSEL
- Verhit die olie en roerbraai die ui. Voeg die ham en sampioene by en skep dit op die kors. Strooi die kaas en pietersielie oor.
- Klits die orige drie eiers, jogurt en melk saam en giet dit oor die vulsel.
- Bak vir 45 tot 60 minute totdat die kors gaar en die vulsel gestol is.
- Laat afkoel tot louwarm voordat dit gesny word.
- Bedien met ʼn groenslaai en ʼn skeppie gebakte bone in tamatiesous om die GI van die ete te verlaag.
Bron: Lekker & Gesond: Glutenvry deur Hilda Lategan
Uitgewer: Lapa