Soorte resepte:

Resep: Herderspastei met baba-aartappels

Herderspastei-met-baba-aartappels

Herderspastei met baba-aartappels. Foto: Lekker&Gesond Veselryk/Lapa Uitgewers.

Lewer 6 porsies.

Een porsie is gelykstaande aan: 3 laevetproteïene, 1 stysel en 1 groente.

Bestanddele:

  • 500 g baba-aartappels, geskrop en met skil in 1 cm-skywe gesny
  • 200 g eiervrug, met skil in blokkies gesny, 15 minute in soutwater geweek
  • 10 ml kanola- of olyfolie
  • 1 middelslag-ui, geskil en gekap
  • 400 g maer gemaaalde bees- of volstruisvleis
  • 1,25 ml elk kruienaeltjies en kaneel
  • 10 ml beesvleisaftrekselpoeier of 25 g Ina Paarman se vloeibare beesvleisaftreksel
  • 50 ml tamatiepuree
  • 125 ml kookwater
  • 200 g geelwortels, geskraap en grofgerasper
  • 175 ml ongegeurde laevetjogurt
  • 1 groot eier
  • 125 ml gerasperde beleë cheddarkaas
  • 5 ml elk gedroogde gemengde kruie en paprika

Metode:

  1. Kook die aartappels vir 12 minute in ‘n bietjie water tot net gaar en dreineer. Spoel die eiervrug met skoon water af en dreineer. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Verhit die olie en roerbraai die ui en maalvleistotdat die ui deurskynend is en die vleis ligbruin. Voeg die eiervrug, kruienaeltjies, kaneel, vleisaftreksel, tamatiepuree, kookwater en wortels by. Verhit tot kookpunt, bedek en prut 20 tot 25 minute totdat die groente gaar is. Skep die vleismengsel in ‘n oondbak, maak gelyk en rangskik die aartappelskywe bo-op sodat die skywe oorvleuel.
  3. Klits die jogurt en eier saam en roer die helfte van die kaas by. Skep die sous oor die aartappels en strooi die oorblywende kaas, die kruie en paprika oor. Bak vir 30 tot 35 minute totdat die bolaag gestol en goudkleurig is.
  4. Bedien dit met ‘n groenslaai of lemoenpampoentjies met ertjies gevul.

Bron:

Lekker&Gesond Veselryk deur Hilda Lategan kan bestel word by Lapa Uitgewers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.