Soorte resepte:

[Resep] Herderspastei met groente

herderspastei-met-groente

Dié herderspastei met groente is ‘n slim manier om te sorg dat die familie groente eet. Foto: Leserskring spogresepte

Catherine Riggien, Prestbury

Lewer 6-8 porsies

Hierdie resep is ’n wonderlike manier om baie groente stilletjies by ’n geurige maaltyd in te sluit. Die hoeveelhede wat hier verskaf word, is genoeg vir ’n gesin, maar jy kan ook die pastei in kleiner individuele houers verdeel.

Bestanddele:

  • 2 botterskorsies, geskil en gekap
  • 500 g groenbone, gesny
  • 6 aartappels, geskil en gekap
  • 30 ml botter of margarien
  • sout en peper
  • olie om te braai
  • 1 groot ui, gekap
  • 2 wortels, geskil en gerasper
  • 4 murgpampoentjies, gerasper
  • 205 g dwergsampioene, gesny
  • 10 ml fyngedrukte knoffel
  • 500 g beesmaalvleis
  • 10 ml gemengde kruie
  • 25 ml worcestersous
  • 25 ml vrugteblatjang
  • 2 blikke (410 g) gekapte tamaties
  • 1 pakkie (60 g) bruinuiesoppoeier
  • knippie paprika
  • 250 ml cheddarkaas

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C.
  2. Stoom die botterskorsies tot sag. Verwerk met ’n handmenger tot glad. Voeg ’n bietjie sout by. Sit eenkant.
  3. Kook die gekapte groenbone en aartappels in ’n bietjie water tot sag. Voeg die botter by en maak fyn. Voeg sout en peper na smaak by. Sit eenkant.
  4. Giet die olie in ’n pan en soteer die ui, wortels, murgpampoentjies, sampioene en knoffel liggies.
  5. Haal uit die pan. Plaas die maalvleis in die pan, voeg ’n bietjie sout en die gemengde kruie by en braai tot bruin. Voeg die gesoteerde groente by die maalvleis. Voeg die worcestersous, blatjang en tamaties by.
  6. Kook teen medium hitte vir 15 minute tot die tamatiesap begin wegkook. Voeg die soppoeier by om die maalvleis te verdik en kook vir 5-10 minute. Voeg nog sout en peper by, indien verkies.
  7. Skep die maalvleis in ’n groot, oondvaste skottel. Skep die botterskorsie op die maalvleis en die fyngedrukte groenbone bo-oor. Sprinkel paprika oor en strooi die gerasperde kaas bo-oor. Bak tot goudbruin.

Bron: Leserskring spogresepte
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marie ·

Bietjie meer werk as gewone herderspastei maar beslis die moeite werd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.