Soorte resepte:

Resep: Hoenderbakkie vir jou hond

Hoenderbakkie (Foto: DARG)

Die diere-rehabilitasiesentrum Domestic Animal Rescue Group (DARG) in Houtbaai het pas ʼn resepteboek bekendgestel wat jou sal help om self gesonde kos vir jou honde by die huis te maak.

DARG help om misbruikte en verwaarloosde diere asook rondloperdiere te rehabiliteer en vir hulle nuwe tuistes te soek. Hulle help ook honde en katte in die nabygeleë Hangberg en Imizamo Yethu deur geld te skenk vir sterilisering, noodgevalle en algemene troeteldiersorg.

DARG ontvang geen ondersteuning van die regering nie en is afhanklik van die goedhartigheid van mense en geldinsamelingsprojekte.

Die groep se jongste projek, die honderesepteboek Bake and Bark, bied resepte met bestanddele wat vrylik in die winkel beskikbaar is. Al die resepte is sonder suiker, sout en xylitol.

Hierdie resep moet nie as ʼn etevervanger beskou word nie. Raadpleeg eers ʼn kenner en voer jou hond verantwoordelik en met matigheid. Vir meer inligting besoek hul webwerf hier. Koop Bark and Bake hier aanlyn.

Lewer 1-4 porsies (afhangend van die grootte van jou hond)

Bestanddele

  • 1 groot beenlose hoenderborsie, gekerf
  • 2 k water
  • ½ k rys
  • ½ k wortels
  • ½ k groenboontjies
  • ½ k ertjies

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 ° Plaas die hoenderborsie in ʼn oondbak en bak vir 30 minute of tot die hoender deurgaar is.
  2. Bring 350 ml water tot kookpunt, voeg rys by en kook oor lae hitte vir 45 minute of tot die water absorbeer is.
  3. Skil die wortel en sny in blokkies. Sny die boontjies op. Voeg die wortel, boontjies en ertjies by die oorblywende water in ʼn pot en kook vir sowat 5 minute.
  4. Kerf die hoenderborsie.
  5. Voeg die hoender, rys en groente in jou hond se bak en meng goed.
  6. Laat afkoel tot kamertemperatuur voordat jy dit vir jou hond voorsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.