Soorte resepte:

Resep: Hoenderbobotie

Hoenderbobotie (Foto: Lapa-uitgewers)

Hierdie bobotie is net so lekker en geurig soos maalvleisbobotie, maar die maer hoendervleis sorg vir ʼn gesonder opsie.

Lewer 6 porsies

Bestanddele

  • 10 ml kanola- of olyfolie
  • 1 ui, gekap
  • 1 knoffelhuisie, gekap
  • 500 g gemaalde hoendervleis
  • 285 g-blik ingemaakte sampioenstukkies en -stingeltjies
  • 2 snye bruinbrood in water geweek, water uitgedruk en gekrummel
  • 10 ml matige kerriepoeier
  • 5 ml elk borrie en fyn kaneel
  • 30 ml blatjang
  • 30 ml Worcestersous
  • 30 ml lae-oliemayonnaise of slaaisous
  • 2,5 ml sout
  • 6 suurlemoenblare
  • 125 ml laevetmelk
  • 2 groot eiers, geklits

Metode

  1. Verhit die olie en roerbraai die ui en knoffel totdat die ui deurskynend is. Voeg die honedermaalvleis by en roerbraai totdat die vleis verkleur. Roer die sampioenstukkies en gekrummelde brood by.
  2. Strooi die kerriepoeier, borrie en kaneel oor en roer deur. Roer die blatjang, Worcestersous en mayonnaise en/of slaaisous by. Geur na smaak met die sout.
  3. Skep die vleismengsel in ʼn gesmeerde oondbak of ses middelslag-ramekinbakkies en maak gelyk. Rol die suurlemoenblare op en druk dit in die vleis. Klits die melk en eier en gooi dit bo-oor. Bak dit 35 tot 40 minute totdat die eiervla gestol het.
  4. Sit voor met rys, wortelrepies en gestoofde groenbone.

Bron: Lekker & Gesond: Goeie vet deur Hilda Lategan

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.