Soorte resepte:

Resep: Hoenderpastei

Hoenderpastei (Foto: Lapa-uitgewers)

Die heerlikste hoenderpastei om die week ʼn bietjie makliker te maak.

Bestanddele:

  • 3 kg heel hoender
  • 5 ml (1 t) sout
  • 6 swartpeperkorrels
  • 4 naeltjies
  • 2 lourierblare
  • 30 ml (2 e) witasyn
  • 2 selderystingels, grof gekap
  • 2 uie, fyn gekap
  • 2 wortels, geskil en in blokkies gesny
  • 875 ml (3½ k) water

SOUS

  • 60 ml (4 e) Clover Mooi River-botter
  • 60 ml (4 e) koekmeel
  • 625 ml (2½ k) hoenderaftreksel
  • 1 ml sout
  • knippie swartpeper
  • 125 ml (½ k) Clover- vars room

SKILFERKORS

  • ekstra Clover Mooi River-botter om mee te smeer
  • 800 g (2 x 400 g-rolle) skilferkorsdeeg
  • 30 ml (2 e) Clover-volroommelk
  • 1 eier

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. Plaas die hoender, sout, swartpeperkorrels, naeltjies, lourierblare, witasyn, uie, wortels en water saam in ’n groot genoeg kastrol.
  3. Kook die hoender vir 2 ure tot gaar. Laat bietjie afkoel, en haal die hoender uit die aftreksel.
  4. Giet die aftreksel deur ’n sif. Behou die aftreksel.
  5. Skep die uie en wortels uit en hou eenkant.
  6. Vlok die hoender tot fyn. Roer ook van die uie en wortels daarby.

SOUS

  1. Smelt die botter in ’n kastrol en roer koekmeel by. Voeg hoenderaftreksel stadig by terwyl geroer word en laat prut tot sous verdik het. Geur na smaak met sout en peper.
  2. Verwyder van die hitte en roer die room by. Giet die sous bo-oor die hoendermengsel en roer.

SKILFERKORS

  1. Smeer die oondvaste bak goed met botter.
  2. Rol die skilferkorsdeeg oop en rol effens platter. Voer dan die oondbak se bodem en kante met skilferkorsdeeg uit.
  3. Skep die hoendermengsel in die voorbereide oondbak.
  4. Rol die oorblywende skilferkorsdeeg bo-oor die hoendermengsel. Verf bietjie water op die oondbak se rand en druk die skilferkorsdeeg op die rande vas.
  5. Versier die bokant met oorskietskilferkorsdeeg.
  6. Verf die bokante van die pastei met melk-en-eiermengsel wat saam geklits is.
  7. Sny ’n paar gaatjies in die bokant vir stoom om te ontsnap.
  8. Bak vir 15 minute teen 200 °C. Verlaag die oond se hitte en bak vir 30 minute teen 180 °C of tot liggoudbruin bo-op.

Bron: Trooskos

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Ma my kon die lekkerste hoenderpastei maak.
(Ter verduideliking: Kip in Nederlands is hoender.)
Eendag kom eet ‘n persoon van Holland tydens sy besoek by ons, en my ma maak haar lekker hoender pastei. Wat is dit wil die Hollander weet? Met ‘n lang verduideliking kom hy tot die slotsom dat dit “kip met koek” is!
Nou ja, die gereg is nooit weer in ons huis hoenderpastei genoem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.