Soorte resepte:

[Resep] Hoendersosaties

Foto: Foto: Kookboek vir Allergieë en Voedselsensitiwiteit

Hoendersosaties. Foto: Foto: Kookboek vir Allergieë en Voedselsensitiwiteit

Die sosaties smaak die lekkerste wanneer dit pas berei is, maar kan vir 24 uur verkoel word. Dit kan ook bevries word vir 30 dae.

Lewer 4 sosaties

Bestanddele:

  • 4 hout- of bamboessosatiestokkies (vir 15 minute in kookwater geweek)
  • 1 middelslag-ui, geskil (100 g)
  • 15 ml olie
  • 50 ml water of stroop gedreineer van die ingemaakte appelkose
  • 60 ml witasyn
  • 10 ml matige kerriepoeier (lees opmerking onderaan resep)
  • 2,5 ml borrie
  • 2,5 ml fyn kaneel
  • 2 suurlemoen- of lourierblare
  • 15 ml fyn appelkooskonfyt
  • 500 g hoenderfilette, in 3,5 cm-blokkies gesny
  • ½ x 410 g-blik appelkooshelftes in stroop (114 g gedreineer)
  • ½ middelslag- groen soetrissie, ontpit en in 8 stukke gesny

Metode:

  1. Gebruik die buitenste lae van die ui (50 g) om later op die sosatiestokkie te ryg. Sny die buitenste lae van die ui in stukke om in grootte by die hoendervleisblokkies te pas. Hou eenkant. Kap die oorblywende 50 g ui fyn vir die marinade.
  2. Verhit die olie en roerbraai die gekapte ui tot deurskynend. Roer die water of stroop, asyn, geurmiddels en konfyt by, verhit tot kookpunt en haal van die stoofplaat af. Giet die marinade in ʼn glasbak wat lank genoeg is om die sosaties in te plaas.
  3. Plaas die hoendervleisblokkies in die marinade, bedek en verkoel vir 1-24 uur. Ryg die hoendervleisblokkies, appelkooshelftes, ui- en soetrissiestukke afwisselend in op die sosatiestokkies. Plaas die sosaties terug in die glasbak met marinade en rol dit in die marinade.
  4. Kry die braaivleiskole, gas- of elektriese braaier gereed en rooster die sosaties oor matige hitte tot gaar. Toets die vleis met ʼn tandestokkie vir gaarheid. Die vleis is gaar wanneer die vleissap helder vloei. Die vleis moet nog sappig wees.

Voorstelle en variasies

  • Die hoendervleis kan deur varkfilet, skaap- of beesvleis vervang word.
  • Lees die etikette van kerriepoeier vir koring en gluten as binder.
  • Laat jou kerriepoeier by ʼn speserywinkel meng. Woolworths het tans ʼn glutenvrye produk op die mark.

Bron: SA kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit
Uitgewer: Tafelberg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amanda ·

Maroela dankie! Ek kan glad nie n gluten en soja vrye marinade op die rakke kry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.