Soorte resepte:

Resep: Kerriehoenderbredie

Foto ter illustrasie. (Foto: Tom Dillon/Unsplash)

ʼn Heerlike kerriehoenderbredie vir dié week se spyskaart.

Lewer 5 porsies

Bestanddele

  • 15-25 ml kanola- of olyfolie (meer indien witvleis gebruik word)
  • 4-5 hoenderborsfilette (500 g) of 6-8 hoenderdye sonder vel (750 g)
  • 1 middelslag-ui, geskil en gekap (100 g)
  • 1-2 knoffelhuisies – opsioneel
  • 15 ml matige tot sterk kerriepoeier na smaak
  • 5 ml garam masala
  • 5 ml borrie
  • 10 ml hoenderaftrekselpoeier
  • 250-375 ml kookwater
  • 25 ml elk blatjang en suurlemoensap
  • 6 baba-aartappels, geskrop en met die skil in kwarte gesny (300 g)
  • 2 middelslag-wortels, geskraap en in skyfies gesny (200 g)
  • 200 g bevrore ertjies
  • 10 ml mielieblom, gemeng met 20 ml koue water

Metode

  1. Verhit die olie en roerbraai die hoendervleis, ui en knoffel totdat die vleis verkleur en die ui deurskynend is. Roer die speserye by.
  2. Roer die hoenderaftreksel, 250 ml kookwater, blatjang en suurlemoensap by. Verhit tot kookpunt en skep die gebraaide vleis by die kokende sous. Sit die deksel op en prut die vleis tot byna sag – 15 minute vir blokkies; 20 minute vir dye.
  3. Voeg die aartappels, wortels, en nog kookwater indien nodig by. Prut met die deksel op vir 15 tot 20 minute totdat die vleis sag en die groente gaar is. Voeg die ertjies by en prut vir 3 tot 5 minute totdat die ertjies warm en net gaar is.
  4. Roer net genoeg van die mielieblompasta by om die sous effens te verdik. Roer en kook vir 1 tot 2 minute totdat die sous dik en gaar is. Bedien dit met gekookte bruinrys.

Bron: Lekker & Gesond: Veselryk deur Hilda Lategan
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.