Soorte resepte:

Resep: Kerrietjops

Kerrietjops (Foto: Verskaf)

“Hulle sê mos spyt kom te laat, maar jy glo dit nooit tot jy dit self ervaar nie. Vandag is ek baie spyt ek het nooit die resep vir my ma se kerrietjops by haar gekry nie. Ek het deur elke boek en elke nota gelees, maar dis nêrens te vinde nie,” skryf Herman Lensing in sy resepteboek Dit proe soos huis.

“Wat ek wel weet, is dat sy goeie Kalahari-tjops gebruik het. Of sy die marinade by die slaghuis gekoop het, sal ek nie weet nie, maar soos my ma my geleer het: As jy iets nie het nie, maak dit self! Die belangrikste van die resep is dat die vleis lank genoeg marineer en dat die kole waarop jy dit braai, lekker warm is!”

Genoeg vir 24 tjops

Bestanddele

  • 45 ml olyfolie
  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 1 cm vars gemmer, gerasper
  • 60 ml matige kerriepoeier
  • 2 lourierblare
  • 750 ml witwynasyn
  • 200 ml fyn appelkooskonfyt
  • 30 ml koekmeel
  • 30 ml water
  • 24 lamstjops

Metode

  1. Verhit die olyfolie in ’n groot pot tot warm. Voeg die uie, knoffel en gemmer by; roerbraai vir 2 minute.
  2. Voeg die kerriepoeier by en braai nog 1 minuut.
  3. Voeg die lourierblare, asyn en appelkooskonfyt by. Bring tot kookpunt en kook vir 2 minute.
  4. Meng die meel en water en voeg dit by die mengsel terwyl jy roer. Kook vir 5 minute.
  5. Pak die tjops in ’n plat vlekvryestaalbak (of kies ’n emaljebak wat nie met die suur in die marinade gaan reageer nie). Giet die marinade oor en sit in die yskas vir 24 uur (liefs langer, tot 3 dae).
  6. Kry jou kole lekker warm en braai die vleis tot goudbruin en gaar. Verf af en toe met die marinade. Skep die gaar tjops terug in die marinade en laat staan vir ’n paar minute in die oond. Sit voor.

Bron: Dit proe soos huis deur Herman Lensing

Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

RS ·

Moet die marinade afkoel voor die tjops in gesit word om te le?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.