Soorte resepte:

Resep: Korslose aspersie-en-ham-quiche

Korslose aspersie-en-ham-quiche. (Foto: Lapa Uitgewers)

Wie het gesê gesonde kos moet vaal of smaakloos wees? Dié korslose quiche lyk nie net mooi nie, maar is ook propvol goeie vet.

Lewer 5 porsies

Bestanddele

  • 150 ml vars bruinbroodkrummels
  • 250 g vars groen aspersielote (of 425 g-blik groen aspersielote = 250 g gedreineer)
  • 5 ml kanola- of olyfolie
  • 1 middelslag-ui, in dun skyfies gesny (100 g)
  • 200 g maer ham, in stukkies gesny
  • 180 ml gerasperde beleë cheddarkaas (75 g)
  • 200 ml ongegeurde laevetjogurt
  • 50 ml laevetmelk
  • 3 ekstragroot eiers, geklits (180 g)
  • 15 ml elk koekmeel en mielieblom
  • knippie borrie (± 0,5 ml)
  • 5 ml gedroogde gemengde kruie
  • varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode

  1. Bespuit ʼn quichepan met ʼn deursnee van 22-24 cm en 3,5 cm diep met kleefwerende kossproei. Versprei die broodkrummels op die boom en kante en druk effens vas. Plaas dit in die vrieskas terwyl die vulsel berei word.
  2. Stoom die aspersielote vir 3 minute. Laat afkoel. Hou 12 van die aspersielote eenkant vir garnering. Sny die res van die lote in 1,5 cm-stukkies en versprei dit oor die boom van die pan. Voorverhit die oond tot 170 °C.
  3. Verhit die olie en roerbraai die ui. Meng dit met die ham, laat afkoel en versprei dit oor die aspersiestukkies. Strooi die kaas oor en rangskik die aspersiepunte bo-op. Meng die res van die bestanddele en skep dit oor.
  4. Bak vir 35 tot 45 minute totdat die vlamengsel gestol en goudkleurig is.
  5. Bedien dit louwarm met ʼn groenslaai, varsgekookte beet en/of vrugteskywe.

Bron: Lekker & gesond: Goeie vet deur Hilda Lategan
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Su ·

klink heerlik, kan mens die aspersies vervang met iets anders?

Marius ·

Nie ‘n kenner nie, maar sampioene en/of medium jalapeno rissies behoort ook lekker te wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.